
Die Suid-Afrikaanse olyfbedryf hou groot potensiaal in vir sukses - veral as mens in ag neem dat dit hand aan hand met die land se wynbedryf en die groepering van kosse saamgaan, sê SA Olive.
Volgens mnr. Andries Rabie, voorsitter van dié organisasie, staar groot uitdagings die bedryf in die gesig. Hy sê olyfolie is een van die enigste landbouprodukte in die land wat in aanvraag is, maar die swak pryse waarteen dit die land ingevoer word, gee olyfboere probleme.
“Sowat 80% van die olie wat in die land verbruik word, word ingevoer. So daar is ‘n groot vraag, maar ons voer baie van ons produkte uit weens die swak pryse wat ons plaaslik kry. Dit kos tans van R33 tot R34 om ‘n liter olyfolie na Suid-Afrika in te voer. As hulle R50 gevra het, sou ek al my olie plaaslik verkoop het. Die subsidies wat die Europese Unie aan sy lande gee, maak die plaaslike mark seer. In party lande kry olyfboere tot R15/l subsidie. Dan ontbreek reguleringsmaatreëls in die plaaslike bedryf ook.”
Wanpraktyke maak bedryf seer
Die wanpraktyke wat binne die bedryf voorkom, soos verwerkers of produsente wat vreemde vloeistowwe by hulle olies gooi en ten duurste verkoop, of verdagte olie wat ingevoer word, berokken ook die bedryf baie skade. “Dit is veral moeilik om dié wanpraktyke te probeer monitor, aangesien die bedryf nog klein is en daar nog ‘n klomp werk is om maatreëls in plek te kry om die bedryf te monitor,” vertel Rabie.
SA Olive het tans 250 lede waarvan 200 kommersiële olyfboere is. Rabie sê hulle verteenwoordig sowat 80% van die land se olyf-produsente. “Meer as 80% van hulle is in die Boland-, Hartswater-, Mooirivier- en Beaufort-Wes-omgewings geleë. Ons het ook produsente in Namibië en Botswana.”
Wêreldgehalte-produk
Rabie sê olywe en olyfolies van wêreldgehalte word in Suid-Afrika geproduseer.
“Ons Director’s Reserve Extra Virgin-olyfolie het verlede jaar die goue toekenning by die Los Angeles International Extra Virgin Olive Oil-kompetisie gewen. Dit is ook verlede jaar in Italië uit 700 olies, wat wêreldwyd vir ‘n kompetisie ingeskryf is, as wenner gekroon,” vertel Rabie trots. Hy is die eienaar van die Willow Creek-olyfplaas in die Nuy-vallei naby Robertson.
Rabie sê aangesien die bedryf nog jonk is, kon dit die afgelope 15 jaar voordeel trek uit die tegnologie wat oor baie jare in ander lande ontwikkel is.
22 Julie 2010