Die snelgroeiendste landboubedryf in Suid-Afrika. Só beskryf SA Olive die olyfbedryf. “Gegrond op die koers waarteen nuwe bome aangeplant word, groei die olyfbedryf met minstens 20% per jaar en verdubbel elke vier tot vyf jaar in grootte,” verkondig die liggaam.
Die afgelope tien jaar het Suid-Afrika se olyfboorde gegroei tot sowat 3 700 ha. Die meeste daarvan (95%) is in die Wes-Kaap, met sy gunstige Mediterreense klimaat, gevestig. Bykans die helfte van die sowat 195 olyfprodusente boer op 5 ha of minder. Saam produseer hulle sowat 1,5 miljoen liter olyfolie – alles ekstrasuiwer – en 1 400 ton tafelolywe.
“Aanplantings neem toe. Daar is gedurig nuwe mense wat navraag doen oor die bedryf en bome aanplant,” vertel mnr. Gert van Dyk, die olyfolie-meester by Tokara op Stellenbosch, en een van vyf Suid-Afrikaanse produsente wat in die jongste uitgawe van die toonaangewende Flos Olei-gids met die wêreld se 500 beste olyfolies, vervat is.