
Die olyfbedryf is opgewonde oor 2012 met wetgewing wat plaaslike boere teen valse invoer gaan beskerm.
Mnr. Andries Rabie, voorsitter, het dié aankondiging op die Suid-Afrikaanse Olyfbedryfsvereniging (SAOIA) se jaarvergadering gedoen.
Hy sê verskeie toetse is in Desember 2010 gedoen, wat bevind het dat sowat 60% van die olyfolies wat ingevoer word, nié aan suiwer olyfoliestandaarde voldoen nie. Die SAIOA-raad het op verskeie geleenthede met die Departement van Handel en Nywerheid vergader om die bedryf se probleme te bespreek.
SA standaard
“Die departement het aangedui dat die olyfbedryf deur die Regering geïdentifiseer is as ’n bedryf met groot potensiaal en hoë groeiverwagtinge, wat plaaslike werksgeleenthede kan help skep en die land se groeikoers kan verhoog,” aldus Rabie.
Die departement het opgemerk dat daar tans nie ’n plaaslike standaard is wat eerlike boere teen misleidende ingevoerde produkte kan beskerm nie.
Die SAOIA-raad het sterk bande met die Australiese Olyfvereniging en omdat dié twee lande soortgelyke uitdagings op verskeie vlakke ervaar, het die raad besluit om dié vereniging se nuwe standaard as Suid-Afrika s’n te aanvaar. Dié standaarde is gegrond op nuwe tegnologie wat gebruik kan word om vas te stel of olyfolies op die mark werklik suiwer is.
Die standaard is aan die departement voorgelê, wat aan die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde opdrag gegee het om ’n olyfoliekomitee te stig. Dié komitee sal oor die verskeie elemente van die standaard debatteer en wanneer die standaard aanvaar word, sal dit later as wet ingestel word.
Statutêre maatreëls
Die raad het om statutêre maatreëls aansoek gedoen. Die Nasionale Landboubemarkingsraad het die aansoek aanvaar. Sodra die heffing goedgekeur is, sal die raad geld vir generiese bemarking beskikbaar hê.
Dié heffing sal na verwagting van 1 Junie vanjaar af van krag wees. “Die Olyfolie-forum is ook besig om ’n spesiale subkomitee te vorm waarin invoerders, handelaars en boere verteenwoodig sal word en wat die geld wat ingesamel word, sal bestuur,” aldus Rabie.
Groei
Rabie sê die Suid-Afrikaanse produksie het die afgelope drie jaar verdubbel, en die goeie oes wat vanjaar verwag word, kan produksie weer met 20% laat styg.
“Die olyfplantasies wat die afgelope 10 jaar aangeplant is, kan dié jaar ten volle produseer, en boere is opgewonde oor die vooruitsigte van dié boorde,” vertel Rabie. Kleinhandelverkope het die afgelope jaar met sowat 25% gegroei.
Die vraag na tafelolywe het ook gestyg, hoewel ’n groot deel van die olywe tans ingevoer word.
20 Januarie 2012