
‘n Tiental ekstrasuiwer olyfolies is as Suid-Afrika se uitblinkers van die huidige oesjaar aangewys. Die uitslae van die 2009 SA Olyftoekennings is deur SA Olive, die beheerliggaam van dié bedryf, en Consol, die borg van die kompetisie, bekendgemaak.
Sake is vanjaar in kommersiële en boetiekklasse uitgespook. Uit die totale aantal inskrywings, wat met 53% sedert 2008 toegeneem het, is altesaam 10 goud, 9 silwer en 10 brons medaljes vanjaar toegeken.
In die kommersiële klas is die die vier top-presteerders met een goud toekenning elk op hul kerfstok: Kloovenburg Cold Extracted Extra Virgin Olive Oil (Kloovenburg Olives), Morgenster Cold Extracted Extra Virgin Olive Oil (Morgenster), Olyfberg Extra Virgin Olive Oil Cold Pressed (Olyfberg) en Rio Largo Extra Virgin Olive Oil Cold Extracted (Rio Largo Farming).
Die boetiek-klas spog met ‘n halfdosyn goue toekennings. Die presteerders in dié klas is: Green & Gold Extra Virgin Olive Oil (Diepsak Farm); The Lady Olive - Olive Oil (The Lady Olive); Saint Sebastian Bay Extra Virgin Olive Oil (The Greenleaf Olive Co); Muiskraal Extra Virgin Olive Oil Cold Pressed (Muiskraal); Olyven Houdt Extra Virgin Olive Oil (Olyven Houdt Farm) en Waterfall River Organic Extra Virgin Olive Oil Cold Extracted (Waterfall River) met een goud toekenning elk.
Inskrywings is blind deur die amptelike SA Olive-proepaneel volgens vooraf-neergeledge kriteria ten opsigte van styl - delikaat, medium en intens - beoordeel. Die paneel, gelei deur bedryfskenner Gerrie Duvenage, het bestaan uit vier produsente en drie nie-produsente. Goud, silwer en brons medaljes word op ‘n konsensus basis toegeken aan olies wat ‘n voorafbepaalde puntetelling behaal. “Dit is ‘n model wat ons aan die wynbedryf ontleen het, waar dit met groot welslae toegepas word,” sê SA Olive se voorsitter, mnr. Andries Rabie.
Volgens Rabie sal vanjaar se beoordeling standaarde in die bedryf herskryf, aangesien slegs kenners uit die bedryf met ‘n erkende proe-kwalifikasie wat boonop aktief op proepanele dien, kwalifiseer om inskrywings vir dié gesaghebbende kompetisie te beoordeel.
Me. Annalene du Toit van Kloovenburg Langoed is aangewys as die 2009 ABSA Olyfpresteerder van die Jaar vir haar besonderse passie vir en bydrae tot die groei van die bedryf. Annalene, ‘n gedrewe entrepreneur en gekwalifiseerde olyfolie proepaneelleier, is onlangs aangewys as die Sanlam/Landbouweekblad se Vroue-rntrepreneur vir 2008/’09.
Sedert 2000 het sy haar besigheid sodanig uitgebrei dat sy vandag met meer as 40 olyfproduklyne spog, ‘n hele aantal toekennings hiervoor ontvang het en selfs ‘n kosmetiese produkreeks ontwikkel het met olyfolie as basis. Hierdie produkte word na Nederland, Duitsland en Mauritius uitgevoer. Sy het ook ‘n belangrike bydrae gelewer in die vestiging van die Riebeek Vallei as gewilde olyfbestemming.
Dié trofee word elke jaar toegeken aan ‘n kandidaat van enige segment van die bedryf, insluitend olyfprodusente, -kwekerye, tafelolyf- en olyfverwerkers of enige verwante produk of aktiwiteit, wat ‘n beduidende bydrae gelewer het tot die ontwikkeling en groei van die plaaslike olyfbedryf.
Kontak Andries Rabie by SA Olive, tel 082 571 8217 of besoek www.saolive.co.za vir volledige uitslae en/of verdere besonderhede.
17 September 2009