Van die boere wat enkele jare gelede olyfbome in die Noord-kaap geplant het, het dit weer uitgetrek. Hoekom?
'n Paar jaar gelede het verskeie boere olywe as aanvullende gewas aangeplant. Heelwat van hierdie boere het ook ná 'n paar jaar die bome uitgetrek. Jaco Vermeulen van Senwes Landboudienste het met Bennie Visser van OLIVES SA kontak gemaak om uit te vind wat die potensiaal en marksituasie van olywe oor die wêreld is.
Indien die boer dit oorweeg om olywe as vertakking in sy boerdery in te bring, is daar sekere besluite wat hy moet neem. Is sy plaas geografies korrek geleë t.o.v. grond en klimaat? Wil hy olywe produseer vir die oliemark of vir die tafelolyf-mark?
Vervolgens is dit belangrik om na olyfproduksie oor die wêreld heen te kyk. (Kyk tabel hiernaas)
In die grafiek is dit duidelik dat verbruik oor tyd sterk toeneem en dat die verbruik (vraag) tans hoër is as die produksie. Twee uitskieters in produksie was a.g.v. uitermate hoë opbrengste en oordragvoorraad.
Suid-Afrika produseer tans so 'n klein hoeveelheid olie dat dit byna geen effek op die wêreldmark kan hê nie. Suid-Afrika voer tans baie groter hoeveelhede olie in as die plaaslike produksie (30% groei laaste 5 jaar).
Dieselfde tendens geld nie vir tafelolywe nie. Dié mark is byna versadig, derhalwe vertoon dit 'n laer groeipersentasie.
Dit egter duidelik dat daar wel nog plek vir olyfproduksie in die wêreld is. Die huidige produksie van olyfolie in Suid Afrika is tans ongeveer 400 metrieke ton teenoor die verbruik van 3 500 ton, met 'n groei in verbruik van 30% elke jaar. Die produksie van olyfolie is ook baie minder gespesialiseerd as kwaliteit tafelolywe. Die boer moet egter self dié besluit neem, want die dubbeldoelkultivars het ons uit ondervinding gesien, werk nie.
Vir meer besonderhede of navrae rakende aanpasbaarheid van dié gewas, kontak Jaco Vermeulen by kantoor 053 4749647 of sel 082 9482557, of Ben Visser by 082 5557968. Besoek die webwerf by www.olivessouthafrica.com
9 Julie 2007