Klimaatsverandering is nie net die gonswoord van ons tyd nie; dit is 'n harde werklikheid. Wetenskaplikes is dit eens: Menslike gedrag is die oorsaak. 'n Projek om koolstof te sink poog om klimaatsverandering te versag.
Dit is kommerwekkend dat die tien warmste jare nóg wat aangeteken is, almal sedert 1990 voorgekom het. Navorsing toon oeste sal afneem namate die temperatuur styg. Rys, die wêreld se belangrikste graangewas, se opbrengs daal met 10 % vir elke 1 graad Celsius wat die temperatuur styg.
Suid-Afrika is sesde op die lys van lande wat die meeste koolstofdioksied per kop ter wêreld produseer. Dit is net agter Amerika, die Tsjeggiese Republiek, Duitsland, die Russiese Federasie en Brittanje. Italië, Spanje en China is op Suid-Afrika se hakke.
Die gevolge van aardverwarming kan reeds gesien word: Ysberge wat smelt, storms (dink aan Durban vroeër vanjaar), brande (in die Suid-Kaap en Overberg) en oorstromings (die Suid-Kaap het verlede jaar, en vanjaar weer, bykans verspoel).
Sowat 'n derde van die aarde se oppervlak is met woude bedek en 70 % van alle koolstof wat in lewende dinge voorkom, word in die woude gevind. Hierdie woude is noodsaaklik, omdat dit koolstofdioksied uit die atmosfeer opneem en as biomassa opberg.
In die tien jaar ná 1992 het die wêreld 'n verlies in woude gesien teen twee sokkervelde per sekonde. Danksy verhoogde openbare belangstelling het dié koers afgeneem tot sowat 20 rugbyvelde per minuut.
Mnr. Albert Ackhurst, 'n bewaringswetenskaplike by die Baartman/Biko-navorsingsinstituut vir Omgewing en Inheemse Woude, Plettenbergbaai, spits hom al die afgelope vier jaar toe op die herstel van inheemse woude. Hy poog om 'n sinvolle meetinstrument te ontwikkel om koolstofvlakke te bepaal sodat Suid-Afrika koolstofkrediet aan ontwikkelde lande (anneks 1-lande) kan verkoop. Dit is sy ideaal om armoede te verlig deur werkskepping in hierdie veld.
"My missie in die lewe is om te streef na 'n bewaringsekonomie waar die natuurlike hulpbronne tot voordeel van die mens strek, maar ook tot voordeel van die natuur."
Hy en mnr. Michael Johnson, stigterslid van die instituut, het kragte saamgesnoer om 'n model te ontwikkel waarvolgens Suid-Afrika koolstof kan sink, pleks van in die atmosfeer vrystel.
"Ek het myself in empiriese navorsing ingegooi om die Afro-tropiese woude se waarde te bepaal en om die koolstof-potensiaal daarbinne vas te stel."
Afro-tropiese woude is 'n sisteem wat strek van Afrika suid van die Sahara tot by Suid-Afrika se suidpunt.
Ackhurst het 'n model ontwikkel wat woudsoorte met mekaar vergelyk. Die model stel hom in staat om groei te monitor en te vergelyk en toekoms-scenario's te bepaal. Só kan hy bepaal hoe gou 'n inheemse woud herstel kan word.
In 'n woud-ekosisteem word fynbos eerste gevestig. Daarna volg ruigtewoud en dan eers die inheemse woud, soos die "ou man" van die bos, die Outeniqua-geelhoutboom. Elkeen berei die weg voor vir die daaropvolgende soorte.
Ackhurst het die beste kombinasies van woudsoorte bepaal en toe gaan saad oes waarvan hy saailinge kweek by hul kwekery op die Forest Wall-landgoed naby Plettenbergbaai. Wanneer die saailinge jong boompies is, word hulle verhard voor hulle in die bedoelde gebied uitgeplant word. Elke boom het 'n GPS-koördinaat-adres en noukeurige aantekeninge word van die hele proses gehou.
In die trope word jaarliks sowat 13 miljoen hektaar woude uitgewis - 'n gebied wat so groot soos KwaZulu-Natal is. Teen hierdie koers kan ál die vogtige, tropiese woude teen 2050 uitgeroei wees.
Die Boreale en Taiga-woude is verreweg die grootste, maar dit word in die ysstreke aangetref. Die woude in Europa is hoofsaaklik bladwisselend en kan dus nie koolstof so doeltreffend sink nie. Om hierdie rede is die tropiese woude van Afrika ideaal vir die sink van koolstof.
Die Noordelike en Suidelike Halfrond maak beurte om koolstofdioksied-vloede te hanteer, maar daar is "net 'n fraksie van die Suidelike long" oor. Die Suidelike Halfrond kan dus nie meer die koolstofdioksied-siklus voldoende onderhou nie.
Die uitdaging is nou om Afrika se "long" gesond te maak en die koolstofpotensiaal in die vasteland te benut.
Afrika se probleme het al in koloniale tye ontstaan. Timmerhout van dié vasteland was 'n gerekende uitvoerkommoditeit. Groot gebiede is ontbos en volgens plan het die fynbos teruggekeer. Maar pleks daarvan dat die kolonialiste die woud herstel het, het hulle denne-, bloekom- en wattelbome (almal soorte wat maklik brand) geplant, sê Ackhurst.
"Dié bome brand elke paar jaar uit en blaas koolstofdioksied die atmosfeer in pleks van om dit te sink. Vyand nommer een is dus uitheemse bome en daarna brande wat koolstofdioksied die lug in pomp."
Ackhurst sê gesonde, inheemse woud sal nie so gereeld brand nie, dit hou die ekosisteem in stand en gebruik minder water. Gesonde woude vorm boonop 'n eie grondlaag van gehalte om die koolstofinhoud van die grond te verhoog.
Hy meen dit is nodig om 'n geïntegreerde ontwikkelingsplan te volg en veral die plaaslike regerings by só 'n projek betrokke te kry. Die Bitou-munisipaliteit, SANParke, die Departemente van Omgewingsake en Toerisme, die Departement van Minerale en Energie asook die gemeenskap se betrokkenheid is noodsaaklik.
Onderhandeling met 'n "wêreldleier in koolstof-ekwivalent-verhandeling" is tans aan die gang.
'n Projek is verlede jaar begin waarvolgens verskeie Suid-Kaapse boere en grondeienaars op groot skaal woude plant in 'n belangrike opvangsgebied wat tans met uitheemse bome oortrek is. Dié projek behoort grondeienaars voordeel te laat trek uit koolstofverhandeling en biodiversiteit en die wateropvangs te verbeter.
Benewens goedkeuring by die Verenigde Nasies se klimaatskonvensie wil Ackhurst die projek ook by die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) laat verifieer. Hy dien tans in 'n SABS-omgewingskomitee wat Suid-Afrikaanse koolstofmetodologie en -meetbaarheid ondersoek.
Landbouweekblad, 4 Januarie 2008