Die Aster Yellows-fitoplasma, wat ernstige vergelingsiekte ("Aster Yellows") in 'n wye reeks groentegewasse, blomplante, dekgewasse en onkruide veroorsaak, is in 'n aantal wingerde in die Wes-Kaap opgespoor.
Volgens prof. Johan Burger en me. Mandi Engelbrecht van die US se departement genetika is fitoplasmas klein, primitiewe bakterieë sonder selwande, wat ernstige siektes in die meeste landbougewasse veroorsaak. Die organismes word tradisioneel geklassifiseer volgens biologiese eienskappe soos simptome, gasheerreeks en vektore, terwyl hedendaagse klassifikasie berus op die genetiese samestelling van die organismes.
Burger en Engelbrecht sê die vernaamste fitoplasma-siektes van wingerd is Flavescence Dorée, Bois Noir en Grapevine Yellows wat wydverspreid voorkom in die meeste lande waar wingerd verbou word. In Europa kom fitoplasma-siektes van wingerd redelik algemeen voor, en in Frankryk, Italië en Spanje het dit swaar verliese tot gevolg indien dit nie beheer word nie.
Tot onlangs het nie een van hierdie siektes in Suid-Afrika voorgekom nie. In die somer van 2006 het mnr. Jeff Joubert, wingerdboukonsultant van VinPro, tipiese fitoplasmasimptome in etlike wingerde waargeneem en die US-navorsers om hulp genader. Hulle het die Aster Yellows-fitoplasma deur middel van die sensitiewe polimerasekettingreaksie (PCR)-tegniek in verskeie wyndruifvariëteite asook enkele tafeldruifvariëteite identifiseer.
Tipiese simptome sluit in vergeling van blare, verkorting van internodes en die abortering van groeipunte en onvolwasse trossies.
Burger en Engelbrecht sê beheer van die fitoplasma-siektes berus op voorkoming van die siekte deur die aanplant van kwekerystokke uit 'n betroubare bron, warmwater-behandeling van wingerd- of tafeldruifstokkies, asook chemiese beheer van die insekvektor en onkruid wat as moontlike alternatiewe gasheerplante kan dien.
Wingerd-fitoplasmas word as kwarantyn-organismes beskou in terme van die Wet op Landbouplae (Wet 36 van 1983) en gevolglik is die Direktoraat Plantgesondheid van die Nasionale Departement van Landbou daaroor ingelig. Die departement, in samewerking met navorsers van US en VinPro gaan intussen voort met verdere ondersoeke. 'n Opname om die omvang van die probleem in wingerde van die Wes-Kaap, asook 'n studie om die biologiese vektor van die siekte te identifiseer, het in samewerking met Winetech begin.
'n Volledige artikel en foto's sal in Landbouweekblad van 18 April gepubliseer word.
1 April 2008