
Tydens die Green Farm Nut Co. se onlangse reeks prysvergaderings met produsente in Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal het dié maatskappy se uitvoerende hoof, mnr. Alan Duncan, gewaarsku dat die huidige wêreldekonomie ’n versigtige benadering verg.
Hy het gesê die wêreldekonomie bevind homself in ’n troebel, onstuimige see met China wat etlike ekonomiese probleme waaronder enorme verbruikerskuld ervaar, die Russiese inval in Oekraïne het die res van Europa in onsekerheid gedompel en die hele wêreld herstel traag van die impak van Covid-19.
Mnr. Alex Whyte, hoof van Green & Gold Macadamias se bemarking in Europa en die Midde Ooste, het gesê daar staan na raming 64 miljoen huise leeg in China. Dit is glo so erg dat party stede leeg staan. Die totale eiendomskuld in China word op $5 triljoen tot $8 triljoen beraam.
Soos met die logistieke probleme wat die oorlog in Oekraïne vir die verskeping van makadamia-uitvoer inhou, is dit nog nie duidelik wat die situasie in China op die bedryf gaan wees nie.
Whyte het daarop gewys dat die Chinese makadamia-oes in 2021 aansienlik groter en van beter gehalte was as wat die bedryf verwag het. Dit het daartoe bygedra tot voorraad na vanjaar oorgedra kon word en die vraag na invoer in dié land verminder.
“Dit is in tye soos hierdie dat ons langtermynbelegging in goeie verhoudinge met ons kliënte in ons boere se guns tel,” het Duncan gesê.
Hy het gesê dit was nog altyd die maatskappy se beleid was om neute eerder wyd oor die wêreld te verkoop as om op enkele markte te konsentreer. Daarom bied die maatskappy vanjaar gemiddeld $15/kg vir neute aan, maar spesifieke pryse sal wissel na gelang van grootte en gehalte van neute. Groot, gesonde neute is altyd in aanvraag, terwyl dit vanjaar moeilik gaan wees om kleiner gebreekte kerne vir die bestanddelemark teen goeie pryse te verkoop.
Whyte het gesê daar is ’n redelik groot oordragvoorraad gebreekte en kleiner kerne in Australië, en dat die Chinese mark baie traag is met bestellings vir ongedopte neute. Die enigste noemenswaardige vraag in dié mark is vir topgraadneute met kerne van 22 mm en groter.
Duncan het gesê ’n interessante jaar lê vir die makadamiabedryf voor. “Ons sien daarna uit om te sien hoe die seisoen ontvou en die mark verander. Ons is gereed daarvoor.”