
Ook appelkose en Bon Chretien-pere volg dié neiging, hoewel nie teen dieselfde stywe pas nie.
“Weens onsekerheid is daar ’n gebrek aan vertroue in die toekoms van die inmaakvrugtebedryf,” het mnr. Anthony Dicey, voorsitter van die Inmaakvrugteprodusentevereniging (IVP) en ’n sagtevrugteboer van Wolseley, op dié organisasie se jaarvergadering op Rawsonville gesê.
Verskeie boere het op die vergadering aan Landbouweekblad gesê dat hulle boorde uithaal.
Dit is veral omdat die toekoms van die grootste vrugteverwerker, Langeberg & Ashton Foods (L&AF) op Ashton, in die weegskaal is as Tiger Brands nie binnekort ’n nuwe eienaar vir die fabriek vind nie.
Prys kom nie mas op
Jordaan het gesê dis ook ’n gevolg van droogte, pryse en alternatiewe gewasse wat meer aantreklik is. “Jy kon die afgelope ses maande agterkom kontantvloei raak al meer van ’n probleem.”
Slegs 19 ha taaipitperskes is die afgelope jaar aangeplant. Dit staan in skrille kontras met die 212 ha wat in 2017 in die bedryf gevestig is. Verlede jaar is spesifiek die kultivars Sandvliet, Cascade, Golden Pride en Kakamas aangeplant. Die Keisie-kultivar het “heeltemal weggeval”.
“My voorspelling is dat die bedryf verder gaan krimp en dat ons waarskynlik by 70 000 ton gaan draai,” het Jordaan gesê. Die afgelope seisoen is sowat 111 000 ton taaipitperskes vir puree en sap aangewend. Altesaam 81 000 ton is ingemaak.
Die gemiddelde perskeprys het die afgelope vyf jaar “horisontaal gebeur”.
“Dis een van die redes waarom die perske-oes afneem, want die produksiekoste styg, maar die pryse hou nie tred nie.”
Benewens L&AF en Rhodes Food Group wat taaipitperskes vir inmaakdoeleindes inneem, het daar ook die afgelope tyd ’n “massiewe skuif” na die plaaslike informele mark plaasgevind. Sowat 33 000 ton perskes is deur dié mark verkoop.
“Die informele mark kan egter ook net soveel perskes absorbeer en dan gaan die pryse begin val. Dit het tot ’n mate al vanjaar gebeur,” het Jordaan gesê.
Meer pere ingemaak
Bykans 10 000 ton meer vroeë Bon Chretien-pere is vanjaar ingemaak as die afgelope vyf jaar.
“Dit was weens die markte, die Russe (die konflik tussen Rusland en die Oekraïene) en die druk op hawens dat die pere nie uitgevoer kon word nie. Meer het dus na die inmakers gegaan, wat dit nie heeltemal verwag het nie,” het Jordaan gesê oor die sowat 62 000 ton pere wat ingemaak is.
Hoewel inmaakpere se prys ietwat gestyg het die afgelope jare, het dit ook nie tred gehou met produksiekoste nie.
Onsekerheid kan geleentheid bring
Dicey het gesê nie alle produsente gaan die ongunstige toestande oorleef nie.
“Ons bedryf het ’n reddingsboei gekry (toe Tiger Brands aangedui het hy sal L&AF vir nog ’n seisoen oophou), maar waar gaan ons volgende jaar dié tyd staan en watter pad gaan ons volg om daar te kom?”
Hy het gesê dis noodsaaklik dat ’n transaksie binne die volgende paar maande beklink word.
Mnr. Jacques Jordaan, uitvoerende hoof van die IPV, het bevestig dat ’n produsentekonsortuim gestig is en dat die voertuie gereed is om inisiatiewe vorentoe te neem vir die bedryf om L&AF te koop.
“ ’n Mens nie altyd seker wat volgende gaan gebeur nie, maar hopelik kan ons oor jaar hier staan en van ’n meer stabiele basis af vooruit gaan om ’n beter toekoms te verseker. Die huidige onsekerheid oor L&AF kan in iets gunstigs omgeskakel word.”
Volgens Jordaan was daar die afgelope jaar ’n tekort aan inmaakvrugte op die wêreldmark. Die vraag sal vanjaar na verwagting meer normaal wees, buiten vir probleme in Spanje en Kalifornië wat geleenthede vir Suid-Afrika kan inhou.
“Ons inmaakfabrieke behoort albei vanjaar winsgewend te wees, veral danksy die wisselkoers. Daar is nuwe markte wat ontgin moet word, markte wat ons moet probeer behou, en ons moet ’n terugkeer probeer maak tot die winsgewende Oosterse markte, wat tydens covid-19 onder druk was.”
Volgens hom is die Suid-Afrikaanse inmaakvrugtebedryf bekend om sy gehalte en kan daarom sekere nismarkte bedien.
“Ons moet ons standaarde handhaaf en goeie gehalte in die blik sit en dit uitvoer. Só kan ons ons markaandeel en pryse opstoot.”