
Ten spyte van die beste oes in jare, is onsekerheid aan die orde van die dag in die vrugtebedryf, sê mnr. Jacques du Preez van Hortgro. “Met logistieke en produksiekoste wat met dubbelsyfers toegeneem het, was hierdie oorlog in Oekraïne die laaste ding wat ons nou nodig gehad het.”
Sowat 21% van die uitvoer-peeroes het verlede jaar na Rusland gegaan, 6% van appeluitvoer en 9% van die pruimuitvoer.
“Die onmiddellike krisis is die vrugte wat verskeep is voor die oorlog uitgebreek het. Ongeveer 900 000 kartonhouers met pere, appels en pruime word geraak. Daar moet nou ander markte gekry word vir van ’n bessie tot ’n pruim en ’n tafeldruif wat nou nie meer na Rusland kan gaan nie. Dis ook nie net Suid-Afrikaanse produkte nie, maar geld alle Suidelike Halfrond-lande.”
Alternatiewe markte nie maklik
Me. Tracy Davids van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) sê die probleem vir produsente is dat hulle vir ’n sekere mark met sekere vereistes produseer. Dis nie altyd maklik om vinnig ’n alternatiewe mark te vind nie. “Wanneer jy volumes na ander markte herlei, kan dit ook pryse in daardie markte afdruk.”
In die geval van pere, byvoorbeeld, is dit ’n spesifieke grootte en gehalte wat vir die Russiese mark geproduseer word en wat nie sommer in ander markte aanvaar word nie.
Du Preez sê die sapmark was ’n opsie vir pere, maar dié mark is nou versadig. “Van die vrugte sal wel op die plaaslike mark eindig, wat beteken daar gaan ’n hoër aanbod wees wat druk gaan plaas op pryse. Ons oorweeg daarom ’n bemarkingsveldtog vir die plaaslike mark.”
Betalings problematies
Du Preez se boodskap aan produsente is om baie mooi te besin oor watter vrugte en gehalte hulle volgende jaar vir watter markte wil produseer en seker te maak hulle het wel ’n mark daarvoor.
Nog ’n bron van kommer is die vertragings in hawens. “Vrag bestem vir Rusland op skepe wat ook Europese hawens aandoen en van daar herverskeep word, moet geskandeer word. Dit veroorsaak verdere vertragings. Ons het dus vertragings in die Kaapstadse hawe, maar nou ook in Europese hawens.”
Hy sê veral pruime word swaar getref deur gehalte-probleme.
Vir vrugte wat wél Rusland bereik, is daar die wesenlike risiko dat produsente nie betaal gaan word nie.
“Dis ’n probleem om geld te kry, want baie van die banke se Swift-betalings is opgeskort. As dit wel deurkom, is daar administratiewe prosesse om te kan bewys die geld is ‘skoon’ en wel vir vrugte.”
Me. Kandas Cloete, wat verantwoordelik is vir plaas- en hulpbronanalises by BFAP, sê produsente se blootstelling aan die Russiese mark wissel. “Vir een produsent sal dit 2% van sy vrugte wees, maar vir ’n ander 12%.”
Beplanning bemoeilik
Sy sê ook onsekerheid is tans die grootste probleem vir produsente. “Jy kan net nie beplan nie. Mense wonder hoe om te begroot vir die 2022-seisoen wat betref kunsmis en chemikalieë en wat hulle veronderstel is om vir hul produk te kry net om koste te kan dek.”
Haar raad aan produsente is om op hoogte te bly van hul pryse per karton sowel as per hektaar. “Mense moet beter dink oor watter volumes hulle van ’n boom kry en waarheen die vrugte kan gaan voor hulle ’n aksie uitvoer. Ek vermoed dit sal ’n stabiliseringseffek in aanplantings bring.”
Mnr. AJ Griessel, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse tafeldruifbedryf (Sati), sê 2% tot 2,5% van Suid-Afrikaanse uitvoerdruiwe is gewoonlik vir Rusland bestem.
“Daar is tans beperkte ontwrigting (benewens die ander probleme) wat logistiek betref gegewe die volumes, maar die effek van die oorlog op insetpryse, veral kunsmis en brandstof, is ’n groter bekommernis. Boere het dié insette nodig om hul volgende oes voor te berei.”
Hy maan produsente moet gereed maak dat kostedruk in die komende tyd sal vererger.
“Ek dink almal hou asem op om te sien wat die uitkoms gaan wees, maar onsekerheid in wêreldmarkte is nooit goeie nuus vir verbruikers nie. Die kostedruk en onsekerheid sal waarskynlik ons bedryf laat herbesin oor marginale wingerde.”