Die wingerd is volgens Frik Kirsten, eienaar van die Mev. Kirsten-wingerd, voor 1960 geplant, “want toe ek gebore is, was die wingerd reeds hier”, sê hy terwyl ons saam met Franse Chenin blanc-produsente en -liefhebbers deur dié bekende bosstokwingerd aan die voet van Bothmaskop op Stellenbosch stap.
Dit word alom aanvaar as die oudste Chenin blanc-wingerd in Suid-Afrika, en is waarskynlik iewers tussen 1905 en 1920 geplant. André Morgenthal van die Ou Wingerd-projek sê die bedryf het eers in 1900 begin rekord hou van aanplantings en talle boere het eers heelwat later hul wingerde geregistreer.
“Ons vermoed die boonste helfte van die wingerd is ouer as die onderste deel.” Volgens Jaco Engelbrecht, wingerdboukundige, was daar boonop ’n gier onder boere om hul wingerd “jonger te maak” op dokumente, omdat ou wingerd nie gewild was nie en hulle nie gedruk wou word om dit uit te haal nie. Die spesiale wingerd is in 2005 deur die Swartlandse wynmaker Eben Sadie “ontdek”.