
Australië wil sy ingelegde vrugtebedryf teen invoer beskerm deur middel van ’n totale verbod op die invoer van al dié produkte wat buite die land se grense geproduseer word. Sou so ’n verbod toegestaan word, sal dit die Suid-Afrikaanse mark hard slaan omdat dit 40% bydra tot Australië se totale ingelegde vrugtemark.
Die Australiese mark se ondersoekowerheid het ook ’n ondersoek oor storting aangaande die invoer van Suid-Afrikaanse ingelegde perskes van stapel gestuur. Dié ondersoek volg op ’n aansoek wat die Australiaanse produsent, Ardmona, ingedien het. Australië is Suid-Afrika se vierde grootste mark vir dié produk.
Ardmona het aan die einde van April vanjaar opgehou om onder meer perskes by boere in die Gouburn-vallei in Australië aan te koop, wat tot ernstige verliese vir talle boere gelei het.
Staan verbod teë
Die plaaslike bedryf en die Departement van Handel en Nywerheid staan luidens ’n berig in Business Day die verbod teë, en het reeds voorleggings daarteen by die Australiaanse owerhede ingedien. Mnr. Rian Geldenhuys, ’n internasionale handel en kommersiële regsverteenwoordiger, sê die verbod sal lei tot ’n groot ooraanbod in die plaaslike mark, wat pryse sal af dryf.
Geldenhuys het die plaaslike bedryf se voorlegging behartig, en hy sê geen bewyse kon gevind word van ’n skielike toename in invoer nie. Dié voorlegging is saam met dié van die Europese Unie en sy individuele lidlande te tafel gelê. Die vrugtesoorte waarop onder meer gefokus is, is sitrus vrugte, appelkose, perskes, pere, gemengde vrugte en ingelegde tamaties.
Volgens Geldenhuys is ’n skielike toename in invoere ’n voorvereiste vir die instelling van so ’n verbod. Verder meen hy die statistiek wat Ardmona ingedien het, was oud omdat dit die statistiek van die tydperk van 2008 tot 2012 is.
Die ondersoeke duur voort.