
“Ons beleggings van R1,2 miljard in die Mkhonde-meule toon ons sterk vertroue in die groeivooruitsigte van veral vrugte-uitvoerders wat ons kartonhouerbord benodig, sê mnr. Tony Philips, voorsitter van Mpact.
Luidens ’n Sens-verklaring is die doel van die belegging om te voorsien in die vraag na volhoubare verpakkingsoplossings van gehalte vir die vrugtebedryf. Dit word aangedryf deur die groei in die Suid-Afrikaanse vrugtesektor.
Die meule sal hoofsaaklik nuwe vesel aan die mark lewer, en luidens die verklaring sal die meule danksy die belegging bevoordeel word deur mededingende koste en ’n kleiner omgewingspoor terwyl dit kan voorsien in die sterk plaaslike en internasionale vraag na semi-chemiese riffelkarton van ’n hoë gehalte.
Die maatskappy se riffelkarton word bemark onder sy handelsnaam Bayplex. Sy riffelkartonhouers word wyd gebruik vir die verpakking van vars vrugte en ander landbouprodukte omdat vanweë hul sterkte, vogweerstandigheid en duursaamheid geskik is vir die eise van koueketting-toepassings.
Groei vorentoe
Die projek behels verbeteringe aan die papiermasjien en opgraderings van die pulpafdeling wat die houtpulpkapasiteit sal verdubbel van ongeveer 55 000 ton per jaar tot 110 000 ton. Dit sal die maatskappy in staat stel om ’n groter deel van sy produksie oor te skakel na Bayplex-produkte. Die kapasiteit van die papiermasjien sal toeneem van ongeveer 10 000 ton na 142 000 ton per jaar.
Om van die neweprodukte van die houtpulpproses te kan benut, sal ’n nuwe spuitdroogaanleg geïnstalleer word waarmee 35 000 ton natriumlignosulfonaatpoeier (SLS) vervaardig sal word vir hoofsaaklik uitvoer. SLS word algemeen gebruik as byvoeging tot beton in die boubedryf.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.