Dit het vir mnr. Hendrik Saayman 76 jaar gekos omuit te vind 'n enkele patatstoel kan 'n allemintige 13,5 kg swaar raak.
Saayman, 'n groente- en vrugteboer aan die oewers van die Goukourivier op Stilbaai, verskaf ook patatsteggies aan boere. Een van dié boere aan wie hy steggies verskaf, mnr. Abraham Joubert van Montagu, het onlangs van 'n stoel sowat 9kg patats geoes.
"Hy het my kom wys hoe mooi my ranke gedra het. Ek sê toe vir hom ek gaan hom troef, " vertel Saayman. 'n Vriendskaplike wedywering het ontstaan, maar twee jaar lank was Joubert altyd 'n kort kop voor.
"Die swaarste gewig wat ek met die beste versorging kon kry, was 6kg, " sê Saayman.
Saayman het Joubert gepols oor sy metodes, maar niks het gehelp nie. Tot hy op 'n dag Montagu toe gery het om self te sien hoe kweek 'n mens reuse-patatranke. "Toe ek die grond sien, toe weet ek wat is die geheim. " Joubert het die patats in slikgrond geplant.
"In September verlede jaar het ons rivier twee keer afgekom en vir my ook slik kom neersit. Slik is die blom van die aarde, " vertel hy terwyl hy die fyn grond deur sy vingers krummel.
Joubert het "sy pak gaan haal" toe hy in Desember die 13,5kg-stoel gaan kyk het. Volgens Saayman is 'n steggie wat 4kg tot 5kg patats per rank gee, uitstekend.
"Maar 13,5kg is heeltemal buitengewoon. Ek wonder of dit nie dalk 'n wêreldrekord is nie. "
Hy het die patats sowat 400mm in die ry af en dieselfde wydte uit mekaar geplant. Die spesifieke stoel is ook 'n maand vroeër uitgespit, want Saayman wou dit op die jaarlikse Pampoenfees ten toon stel.
Hy sê die patats is so soet soos suiker en 'n mens "is elke slag in die versoeking om te veel te eet".
Volgens hom is die Saaymans patatmense: "Hulle meen toe die goewerneur aan die Kaap gekom het, het die eerste Saaymans opdrag van hom gekry om patats te plant. "
Landbouweekblad, 14 September 2007.