Die Fema-projek, oftewel Forelle Early Market Access-projek, is sowat tien jaar gelede van stapel gestuur. “Ons kon die mark vyf weke vroeër betree, die bemarkingsgaping beskerm, asook nuwe markte oopmaak wat fermer pere verkies, soos die Midde- en Verre Ooste,” het dr. Ian Crouch, besturende direkteur van Experico Agri-Research Solutions, op die internasionale peersimposium op Stellenbosch gesê.
Dit is volgens berekeninge sowat R20/kg meer Forelle-pere wat bemark word. Suid-Afrikaanse Forelle-pere moet ’n koue-opbergingstyd van 12 weke ondergaan voor dit verkoop kan word – sodat dit nie melerig raak nie. Produsente het hul vrugte dus so vroeg moontlik geoes om met dié opbergingstyd te kon begin.
Dit veroorsaak egter dat baie pere vreeslik vrank proe. Só het ’n bemarkingsgaping ook tussen die vroeë tweekleurpeerkultivars en Forelle uit Suid-Afrika ontstaan. Gevolglik is markte afgestaan aan ander lande in die Suidelike Halfrond.