
Die land se oudste potketelbrandewyn is so gesog dat ’n naamlose koper van Kenia, voor die bekendstelling daarvan, ’n bottel daarvan gekoop het vir R30 000, meer as dubbeld die prys as waarvoor dit in Suid-Afrika verkoop word.
Dié brandewyn word deur Van Rhyn's gemaak. Die meeste van die komponente van die brandewyn met die naam AU.RA is 30 jaar oud, hoewel sommige 40 jaar of ouer is.
Volgens die land se regulasies moet die ouderdom wat op die bottel verskyn, die ouderdom wees van die jongste komponent waarvan die brandewyn gemaak is.
Elkeen van die 107 glasbottels waarin die brandwyn verkoop word, is handgeblaas en is met ’n handgemaakte silwerhanger versier. Luidens ’n verklaring word die bottel verpak in ’n soliede eikehoutkassie wat deur James Mudge gemaak is. Dit word ook persoonlik by elke koper afgelewer en van ’n egtheidsertifikaat vergesel.
Waglys
Me. Shelly Ellse, woordvoerder vir die Van Rhyns-landgoed, sê plaaslike kopers laat hulle nie koudsit deur die prys nie, en sommige kopers wil hul name op ’n waglys laat plaas vir ingeval kansellasies voorkom.
Sy sê dié momentum strook met die groei wat Van Ryn se Collection Reserve-brandewynreeks die afgelope paar jaar getoon het. “’n Mens moet benadruk dat Van Ryn se brandewyn beperkte oplae is, en nie in groot volumes gemaak word nie. Die handelsmerk se profiel as waarskynlik die mees bekroonde brandewynnaam in Suid-Afrika, help egter om dit in die kollig te plaas.”
’n Private telefoonlyn is geskep vir diegene wat ’n bottel in die hande wil kry.Die brandewyn word net deur Van Ryn verkoop. Die landgoed se ander brandewyne is egter by spesialis-kleinhandelaars beskikbaar.