
Die Arisa-pakhuis buite Swellendam in die Wes-Kaap het vanjaar 6 500 t persimmons ingeneem,waarvan 4 500 t uitgevoer is. Die verwagte volumes vir volgende jaar is 7 000 t, sê mnr. Hein Smal van Sharon Fruit for South Africa. Die pakhuis hanteer die Israeliese Sharon-persimmons, wat bekend is vir hul voortreflike eetgehalte. “Die vraag na Sharon-persimmons in Suid-Afrika het in die laaste jare goed toegeneem en ons is opgewonde daaroor. Ons het die afgelope seisoen baie gefokus op die bewusmaking van die produk op die binnelandse markte.”
Wat die uitvoer van persimmons betref, sê Smal dat heelwat plaaslik gekweekte Sharon-persimmons uitgevoer word – veral na Europa. “Ons is ook tans besig om die Midde-Ooste as uitvoermark te ontwikkel,” sê Smal.
Volgens Smal word die meeste hektare Sharon-vrugte in Suid-Afrika deur die Israeliese groep KAV-YAM besit. Dié groep is reeds sowat 40 jaar lank ernstig betrokke in die persimmonbedryf in Israel. “Hulle stuur elke maand raadgewers en adviseurs na Suid-Afrika om die land se produsente op hierdie wyse te ondersteun en van raad te bedien – veral wat nuwe tegnologie en die jongste produksietegnieke betref.”