
Dit is onrusbarend dat die aantal sintetiese plaagdoders oor die afgelope 45 jaar van 22 tot meer as 450 toegeneem het.
Engeland verbruik byvoorbeeld ’n halwe kilogram plaagdoder per persoon per jaar. Volgens Klink (2009) is hierdie ontwikkeling ’n onomkeerbare spiraal wat vanweë terugslae in doeltreffendheid uitrek – insluitend weerstandopbouing, siektevatbaarheid, die verlies aan biologiese teenvoeters en verminderende (verkorte) voedselkettings.
Sintetiese chemikalieë het oor die afgelope sestig jaar beloftes ingehou vir gesondheid, voorspoed en gerief, maar nou begin dit lyk asof dié chemikalieë meer probleme as oplossings skep.
Die aanvanklike rede vir die vervaardiging van hierdie chemikalieë, was om voedselproduksie te verhoog, die mens teen insekte soos malariamuskiete te beskerm en om ongewenste plae uit die tuin te hou. Die gebruik van hierdie middels het egter ’n negatiewe uitwerking op die ekosisteem. Dit het veroorsaak dat ’n verbod op die vervaardiging en die gebruik van sommige plaagdoders ingestel is, soos DDT.
Die oordeelkundige gebruik van plaagdoders kan groot voordele vir die landbou inhou, maar die onoordeelkundige gebruik daarvan kan ongelukkig ook groot skade aan ekosisteme aanrig. Mense in Suid-Afrika raak al hoe meer bewus daarvan dat sekere dierespesies (veral voëls) besig is om uit te sterf. Verskeie voëlspesies wat vroeër algemeen in tuine aangetref is, is deesdae spoorloos.
Paddas en sprinkane
Ekosisteme bestaan uit verskillende voedselkettings wat op hulle beurt weer uit verskillende trofiese vlakke bestaan. As voorbeeld hiervan word die volgende voedselketting voorgehou: Gras – sprinkaan – padda – slang – arend. Indien gif gebruik word om ’n sprinkaanplaag uit te roei, kan paddas die vergiftigde sprinkane vreet en sodoende vergiftig word. Op hierdie wyse word die betrokke gif deur al die trofiese vlakke gedra totdat die roofvoëls uiteindelik uitgewis word. Dit is ’n bekende feit dat gif al hoe meer gekonsentreerd raak soos wat dit deur die trofiese vlakke na bo beweeg.
Die gevolge hiervan is die volgende:
• ’n Hele ekosisteem word vernietig;
• Grond word deur die verrotting van die karkasse vergiftig;
• Waterbronne word besoedel; en
• Ander gediertes kan in die afwesigheid van roofvoëls ’n oorlas raak.
Dít is die rede waarom so baie klem daarop geplaas word om gifstowwe oordeelkundig te gebruik. Die voorafgenoemde situasie kan vermy word indien slegs gif gebruik word wat nie ’n nawerking het nadat die sprinkaan dit ingeneem het nie, maar dadelik binne die sprinkaan afbreek.
Swaar metale (byvoorbeeld kwik en groot konsentrasies andersins veilige elemente, soos koper) en biododers (insek- en swamdoders) wat as gifstowwe gebruik word, kan as onsigbare besoedelingstowwe beskou word, maar dit is in die meeste gevalle uiters gevaarlik.
Kan gesondheid benadeel
Die waterlewe kan vernietig word teen konsentrasies wat só laag is dat dit nie eers deur laboratoriumtoetse opgespoor kan word nie. Dit kan ook die mens se gesondheid benadeel. Biododers word as hardnekkig beskryf, met ander woorde hulle verdwyn nie maklik nie. Die gifstowwe kan in ’n mate deur riviere verwerk en in die slik op die rivierbedding “begrawe” word, maar wanneer die slik weer gemobiliseer word en die watervlak daal, word dit weer vrygestel.
Die meeste besoedeling is van mynbou en ander swaar nywerhede afkomstig, maar op plase is een oorsaak van besoedeling die oormatige toediening van biododers deur boere wat natuurlik nie wil hê hul landbouprodukte moet deur streng kopers afgekeur word nie.
’n Groter probleem is egter die onverskillige of oningeligte opberging, hantering en wegdoening van biododers. OXFAM het bereken dat terwyl derdewêreldlande (Suid-Afrika ingesluit) slegs 15% van al die plaagdoders in die wêreld gebruik, hulle jaarliks vir 50% van die vergiftigings deur plaagdoders en vir meer as 75% van gevolglike sterftes verantwoordelik was.
Etiketbeskrywings
Die volgende beskrywings kom algemeen op gifstowwe se etikette voor:
Toksies - Dit kan beserings of dood veroorsaak as dit ingeneem, geabsorbeer of ingeasem word. Voorbeelde hiervan is motbolle, masjienskoonmaakmiddels en plaagdoders.
Vlambaar - Dit vat maklik vlam en is geneig om aan te hou brand. Voorbeelde hiervan is verfverdunner, naelpolitoer, bleikmiddels, oondskoonmakers en aerosolprodukte.
Reaktief - Dit kan spontaan skadelike gasse vrystel as dit met ander produkte gemeng word. Dit kan ontplof as dit aan hitte, suurstof of water blootgestel word. Hierdie soort produkte mag nóóit met bleikmiddels wat ammoniak bevat, gemeng word nie.
Irriterend - Dit veroorsaak seerheid en swelling van die vel, oë, slymvliese en respiratoriese stelsel. Voorbeelde hiervan is gom, ammoniakbevattende skoonmaakmiddels en bleikmiddels.
Maatreëls vir die veilige gebruik van gifstowwe sluit die volgende in:
• Lees die voubiljette en was die spuittoerusting in warm, seperige water voordat enige chemikalieë gemeng word.
• Gebruik oog-, voet-, hand- en liggaamsbeskerming.
• Meet die dosis van die gifstof korrek af volgens die voubiljet se aanwysings.
• Gemengde gifstof moenie oornag gebêre word nie.
• Gemengde middels moet net genoeg vir een toediening wees.
• Hou altyd die gifstof in die oorspronklike verpakking en bêre dit in ’n geslote kas / area weg van kinders en troeteldiere.
Dit is skokkend dat slegs 30% van die 17 000 chemikalieë wat in huise gebruik word, getoets is vir die uitwerking wat dit op menslike gesondheid en op die omgewing het. Honderd en vyftig van hierdie produkte kan allergieë en kanker by die gebruikers veroorsaak. Dit is ook bewys dat slegs 1% van hierdie gifstowwe wel op hulle etikette aantoon dat dit skadelike stowwe bevat, omdat die vervaardigers beweer dat die formules hulle handelsgeheim is.
Wenke vir die oningeligte tuinier
• Vir die beheer van miere in die huis sonder die gebruik van skadelike gifstowwe: Sprinkel rooirissiepoeier, paprika, droë peperment of boraks op die plekke waar die miere die huis binnekom.
• Verminder die gebruik van plaagdoders in groente- en blomtuine: Goeie resultate word behaal deur eerder inheemse plante te plant, onkruid met die hand uit te trek en ’n seep-en-watermengsel op plante te spuit om van insekte ontslae te raak. Dit sal die gebruik van produkte met gevaarlike aktiewe bestanddele wat die omgewing en die mens skade aandoen, verminder.
Onthou om “tussenplant” toe te pas wanneer groentesaad gesaai word. Wanneer uie byvoorbeeld tussen wortels geplant word, verwar die gemengde reuk potensiële plae en vreet hulle daarom nie aan die groenteplante nie. Plante wat ook as goeie afskrikmiddels dien om tussen groente te plant, sluit kruie met ’n skerp reuk of plante soos gousblomme of sprietuie in. In die roostuin speel grasuie en knoffel ’n uitstekende rol om plantluise weg te hou. Roosmaryn, kappertjies, peperment, salie en basiliekruid is ook doeltreffende afskrikmiddels vir vlieënde insekte en miere.
Samevatting:
Plaagdoders is van waarde indien dit korrek en oordeelkundig aangewend word. Daar word dus nie aanbeveel om die gebruik van plaagdoders noodwendig te staak nie. Dit is baie belangrik om eers die voubiljet te lees voordat die gifstof aangewend word. Die mens behoort na die omgewing om te sien voordat dit te laat is. In ’n opvolg-artikel word aandag gegee aan natuurlike beheermetodes wat as alternatief vir plaagdoders gebruik kan word.
Bronnelys:
Klink HE, 2009. South Africa’s Organic sector body formed. http://www.goorganic.co.za
http://www.enviroserv.co.za/pages/content.asp?SectionID=1005
* Geskryf deur Edward Dwyer, NWK Landboubestuursdienste, NWK, Lichtenburg.
7 Desember 2010