
Suid-Afrika het in vanjaar se Concours Mondial du Sauvignon, een van die grootste internasionale kompetisies vir Sauvignon Blanc-wyne, meegeding met 1 120 wyne uit 23 ander lande. Suid-Afrika is danksy vier goue en dertien silwer medaljes as een van die topvyf lande in die kompetisie aangewys.
Die kompetisie is vanjaar vir die eerste keer in Portugal aangebied. Vyftig beoordelaars het op 18 Maart aan die inskrywings begin proe. Die resultate is vroeër vandeesweek bekend gemaak.
Diemersdal se The Journal Sauvignon Blanc 2021 het ’n goue medalje verower, asook die trofee vir die beste Suid-Afrikaanse wyn in die kompetisie. Dié wynlandgoed het ook twee silwer medaljes gewen.
Mnr. Thys Louw, eienaar en wynmaker van Diemersdal en ondervoorsitter van Sauvignon Blanc SA, sê hy put groot vreugde uit die wete dat hulle werk met ’n kultivar wat gewild is onder wynliefhebbers en ook een van die suksesvolste kommersiële kultivars ter wêreld is. “Die gehoor is daar, nou moet ons deur kommersiële sukses vir hulle wys dat daar edelheid in die kultivar is.”
Goue medaljes is ook deur Delaire Graff Coastal Cuvée Sauvignon Blanc 2017, Elgin Vintners Sandstone 2021 en Vrede en Lust Blanc Fumé 2019 verower.
Neethlingshof Estate Sauvignon Blanc 2021, Alvi’s Drift Signature Sauvignon Blanc 2021, Diemersdal The Journal Sauvignon Blanc 2021, Groote Post Seasalter 2021, Zevenwacht 360 Sauvignon Blanc 2020, Cederberg Sauvignon Blanc 2021, Cilmor Winemaker’s Selection Sauvignon Blanc-Semillon 2021, Diemersdal Winter Ferment Sauvignon Blanc 2021, Ghost Corner The Bowline 2019, Turtle House Sauvignon Blanc 2021, Elgin Vintners Sauvignon Blanc 2021, Uva Mira Sing-A-Wing Sauvignon Blanc 2021 en Ghost Corner Wild Ferment 2020 het silwer medaljes gewen.