Een aand, ná ’n sokkie-opskop tydens sy oorbruggingsjaar ná matriek, het mnr. Damien Cadle by ’n vriend in die Bottelaryheuwels by Stellenbosch oorgeslaap. Die volgende oggend, toe hy oor die wingerd rondom die huis tuur, was dit asof iets “gekliek” het.
“Ek het wingerd- en wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer, maar die wingerd was altyd die aanloklikste,” vertel Cadle, ’n gebore en getoë Noordwester wie se familie met hoenders en vee geboer het. As student kon hy nie uit die wingerd bly nie.
Toe het hy “harde lesse geleer” terwyl hy na ’n wingerd tussen Stellenbosch en Somerset-Wes omgesien het. “Ek het self gesnoei, gespuit, gepars en ook wyn gemaak, maar ek dink ek het net 100 kg druiwe afgehaal vir vreeslik baie werk!