
Vye word die afgelope agt jaar kommersieel in Suid-Afrika verbou. Volgens mnr. Avril de Villiers, direkteur van Star South ('n plaaslike en internasionale vrugteverskaffer), is daar tans 200 ha onder verbouing en is die produksievolumes besig om jaarliks te styg.
In Suid-Afrika is daar tans 30 kommersiële boere met produksie-eenhede wat tussen 4 ha tot 8 ha wissel. Pryse is goed en wissel tussen R40/kg tot R60/kg. “Voordat boere nuwe aanplantings vestig, moet hulle in gedagte hou dat Suid-Afrikaanse produsente tans 'n premie vir hul produk ontvang vergeleke met ander lande. Pryse mag dus nie vir altyd so goed wees nie,” sê De Villiers.
Die meeste van Suid-Afrika se vye word na Brittanje uitgevoer. Die bedryf se grootste probleem is hoë arbeidskoste, aangesien produksie baie arbeidsintensief is. De Villiers verduidelik dat dit tien tot selfs twaalf weke kan duur om vye te oes.
Die hoë bederfbaarheid van die produk vereis ook dat verspreiding baie vinnig moet plaasvind. Dit plaas geweldige druk op die logistieke verskaffingsketting. “Die spesialis-hantering van vye speel 'n deurslaggewende rol om vye suksesvol te verkoop en 'n inkomste te verdien.”