Elke keer
wanneer 'n proefbesending piesangs Suid-Afrika verlaat, word meer en meer
haakplekke in die uitvoerproses uitgestryk. Die plaaslike piesangbedryf is
heeltemal ingenome met wat tot dusver vermag is.
Die goeie nuus vir plaaslike piesangprodusente is dat die proefbesendings wat tot dusver uitgevoer is, groot belangstelling in die buiteland ontlok en ook reeds tot nuwe bestellings gelei het.
Só sê dr. Jan Prinsloo, voorsitter van die Piesangkwekersvereniging van Suid-Afrika se uitvoerkomitee.
Volgens mnr. Wikus Joubert, bestuurder van die vereniging, is die ondersoek na die lewensvatbaarheid van piesanguitvoer aanvanklik van stapel gestuur weens die toenemende druk wat produksiekoste op die plaaslike bedryf plaas.
Die ondersoek het twee jaar gelede begin met 'n nagebootste uitvoerpoging waar 'n proefbesending piesangs in 'n skeepshouer in beheerde toestande gehou is. Op grond van hierdie proef se belowende resultate het die kwekersvereniging besluit om voort te gaan met die ondersoek en om werklike proefbesendings na die buiteland te stuur.
Suid-Afrika se eerste werklike piesanguitvoerpoging was 'n besending na Libië. Tydens hierdie poging is verskeie knelpunte geïdentifiseer. Weens die omvang van die uitvoerpoging het die kwekersvereniging 'n uitvoerkomitee aangewys om die bykomende las op die vereniging se bestuur te verlig, sê mnr. Joubert.
Dr. Prinsloo sê vir die jongste uitvoerpoging is 'n houer piesangs na Dubai gestuur. Dit is bloot 'n logiese volgende stap in die proses om die lewensvatbaarheid van piesanguitvoer te toets.
Die gedagte was om te eksperimenteer met onder meer piesangtrosse van verskillende ouderdomme en ontwikkelingstadia, verskillende pakmetodes, en om die melksapprobleem (lateks) op te los.
Dié probleem word veroorsaak deur plantsap wat uit die snywonde aan die piesanghande drup en die vrugte en verpakking vlek. Hierdie uitvoerpoging moes ook wys of die navorsing met betrekking tot afkoeling, ventilasie en die verskillende soorte bedekkings betroubare resultate gelewer het.
Verskeie boere in die Kiepersol- en Letaba-gebied het piesangs vir uitvoer na Dubai gepak. Die proses is bemoeilik deur die November-"dump'' wat in volle gang was en gehalteprobleme tot gevolg gehad het.
Dit is vrugte wat gedurende die wintermaande gevorm (geïnisieer) word en wat dikwels swakker is. Die uitvoerhouer is van 18 tot 23 Maart, kort voor die Paasnaweek, gevul en op 28 Maart uit Durban verskeep.
Dr. Prinsloo sê dit was 'n verrassing toe die houer ná net 11 dae in Dubai aangekom het. "Dit het ons onkant betrap, met die gevolg dat ons nie teenwoordig kon wees met die aflaai van die houer nie. Ons het egter die agente versoek om die vrugte tot met ons aankoms op te berg."
Hy en mnr. Basie Alberts, ook van Kiepersol, het op 15 April in Dubai aangekom en onmiddellik na die piesangs gaan kyk. Die vrugte was in 'n goeie toestand. In daardie stadium het sowat 5 % van die vrugte reeds begin verkleur en is verkoop. Die res was groen en in 'n baie goeie toestand.
Samesprekings
In Dubai het dr. Prinsloo en mnr. Alberts samesprekinge gevoer met invoerders, handelaars en verbruikers.
Daar is vasgestel dat geen spesiale moeite met die bemarking van die Suid-Afrikaanse besending gedoen is nie. Die Suid-Afrikaanse piesangs neem ook heelwat langer om ryp en geel te word as dié uit die tropiese gebiede. Die rypmaakproses in Dubai verskil heelwat van dié wat plaaslik gebruik word.
Meer aandag sal aan hierdie aspek gegee moet word en Suid-Afrikaanse piesangs sal in Dubai waarskynlik afsonderlik van die res rypgemaak moet word. Kommer is uitgespreek dat te veel koolsuurgas verantwoordelik kon wees vir die stadige rypwording.
Dr. Frans Kruger van die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Sitrus en Subtropiese Gewasse (LNR-ITSG) op Nelspruit is onmiddellik opdrag gegee om hierdie saak te ondersoek.
Volgens dr. Prinsloo was die grootste probleem die duur van die verkleuring. "Ons het besef ons moes 'n bemarker in Dubai vind wat ook na die rypmaak sal omsien, moeite sal doen met die bemarking van ons vrugte en hom sal beywer om goeie pryse vir die Suid-Afrikaanse piesangs te behaal. Ons het só iemand raakgeloop en beoog om hom reeds met die volgende besending te gebruik," sê dr. Prinsloo.
Die relatief kort reistyd van 11 dae na Dubai tel definitief in Suid-Afrika se guns. Daarby is die piesangs redelik goed ontvang. Sekere bestuurspraktyke vereis egter nog aandag voordat Suid-Afrika werklik op groot skaal piesangs kan uitvoer.
Dr. Prinsloo sê hierdie jongste proefbesending piesangs na Dubai bevestig opnuut dat piesangs goed uitgevoer kan word, maar ook dat boere bedag op die slaggate moet wees. Sake om na op te let, is:
Die verskepingskoste van houers maak dit onmoontlik om na baie lande uit te voer en daarom is dit noodsaaklik dat in groot maat per skip uitgevoer word.
Die kleinste skip neem 60 000 18 kg-houers piesangs en dit is dus noodsaaklik dat die hele bedryf saamwerk om sulke hoeveelhede uit te voer.
In hierdie stadium is Libië steeds Suid-Afrika se beste mark vir piesangs. Die pryse is goed en skynbaar ag Libië nie onderskil-verkleuring as 'n probleem nie. Gedurende Julie en Augustus is pryse egter laer in Libië weens die baie ander goedkoop vrugte in die Libiese somer, maar van September tot Mei hou Libië groot potensiaal in vir Suid-Afrikaanse piesangprodusente wat daarheen wil uitvoer.
Die kwekersvereniging vra boere om hul boordbestuurspraktyke só aan te pas dat hulle kan meedoen aan toekomstige uitvoerpogings. Dit is byvoorbeeld noodsaaklik dat die trosouderdom weekliks bepaal word. Plante word in die blomstadium gemerk om die tydperk van blom tot oesgereedheid te bepaal. As die vrugte te lank hang, byvoorbeeld in die winter, raak dit fisiologies ongeskik om lank opgeberg te word, soos vereis met uitvoer.
Die uitvoer van piesangs sal voorlopig nog deur die kwekersvereniging bestuur word totdat finale uitvoerriglyne neergelê is. "Die risiko om Suid-Afrika se goeie naam en dié van die plaaslike piesangbedryf skade te berokken en dat boere geld kan verloor as daar 'n fout insluip, is net te groot en ons wil ons produsente tot elke prys hierteen beskerm.
"Die beplanning is egter om, sodra ál die haakplekke uitgestryk is, die uitvoer aan die boere oor te laat sodat hulle regstreeks met uitvoerders kan onderhandel. Die goeie nuus is dat ons reeds verdere bestellings het en voortgaan met die proeflopie," sê dr. Prinsloo.
21 Junie 2002