
Produsente van vars produkte is ontstoke oor die manier waarop Prokon, wat ingevolge die Wet op Landbouprodukstandaarde (Wet 119 van 1990) aangestel is om produkbeheer op vars produkte toe te pas, die proses stoomroller terwyl daar nog oor sekere aspekte onderhandel word.
Prokon het onlangs sy inspeksieheffings vir vars produkte in die Staatskoerant afgekondig met die versekering dat die pryse bepaal is “ná deeglike konsultasie en goedkeuring van die uitvoerende beampte van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling”.
Produsente meen egter die skielike aankondiging oor die heffings in die Staatskoerant van 11 Maart maak ’n bespotting van die konsultasieproses tussen Prokon en boere. “Dit was dan niks minder as ‘window dressing’ nie,” sê mnr. CT van der Merwe, voorsitter van die noordelike uiekomitee.
“Wat produsente betref, was ons nog besig om te onderhandel om duidelikheid oor sekere aspekte en antwoorde op ons vrae te probeer kry. Nou is dit eenvoudig gestoomroller sonder om gehoor te gee aan enige van ons bekommernisse of antwoorde op ons vrae te verstrek.”
Van der Merwe sê boere wou byvoorbeeld by Prokon en die departement weet vir wie die inspeksies waarde toevoeg. Die antwoord was dat verbruikers en kettingwinkels daardeur beskerm word. “Een van ons vrae was hoekom boere dan daarvoor moet betaal as dit vir ons geen waarde toevoeg nie?”
Dit is net een van die vrae waarop boere antwoorde wou kry voordat inspeksieheffings bepaal word.
’n Inspeksieheffing van 1c per kg is aangekondig vir die volgende produkte: aspersies, murgpampoentjies, eiervrug, komkommer, gemmer, sampioene, artisjokke, broccoli, brusselse spruite, botterskorsies, lemoenpampoentjies, wortels, blomkool, seldery, rissies, Chinese kool, witloof, vinkel, groenbone, groenuie, groenertjies, peperwortels, preie, blaarslaai, okra, pietersielie, witwortels, soetrissies, pampoene, radyse, rabarbers, skorsonera, spinasie, suikermielies, rape, witloof-sigorei, beet, kool, patats, braambessies, bloubessies, turksvye, draakvrugte, bosbessies, vye, appelliefies, grenadellas, koejawels, nangka’s, kiwivrugte, mango’s, spanspekke, papajas, persimmons, granate, kwepers, frambose, stervrugte, aarbeie, waatlemoene en ongespesifiseerde groente.
Daar sal 1,5c gehef word vir inspeksies van: appels, appelkose, avokado’s, piesangs, kersies, sitrusvrugte, knoffel, druiwe, lietsjies, perskes, nektariens, pere, pynappels, pruime en pruimedante, uie, salotte en tamaties.
Prokon sê die inspeksieheffings is gegrond op gewig ten einde objektiwiteit, konsekwentheid, regverdigheid, redelikheid en billikheid te verseker. Die verskil in inspeksiegeld (1c/kg versus 1,5c/kg) op gekategoriseerde produkte word gestaaf deur die omvang van hulpbronne (arbeid, finansies, ens.) wat geallokeer word om die inspeksie-aktiwiteite uit te voer.
Boere steier reeds
Boere kreun egter reeds om staande te bly onder ewig stygende insetkoste. Kunsmis-, brandstof-, arbeids- en elektrisiteitskoste is besig om die hoogte in te skiet. Van der Merwe sê as gevolg van die klein marges op die meeste vars produkte gaan hierdie inspeksiegeld tot soveel as 25% van boere se netto wins absorbeer.
“Ons gaan dus 25% van ons wins aan Prokon moet betaal vir iets wat geen waarde toevoeg tot ons boerdery nie. Dit is absurd en kommerwekkend dat die regering sy mag só misbruik.”
Vyf agentskappe is in 2016 deur die destydse departement van landbou aangestel om gehalte-inspeksies op landbouprodukte uit te voer. Dit was Leaf Services vir graan en oliesaad, Prokon vir vars produkte, Nejahmogul Technologies and Agric Services vir melkprodukte, Agency for Food Safety vir diereprodukte, en Impumelelo Agribusiness Solutions vir verwerkte produkte soos vrugtesappe en bevrore of ingemaakte groente en vrugte.
Prokon is uit die aartappelbedryf gebore waar dit moes toesien dat Suid-Afrika se aartappels aan minimum vereistes voldoen. Van die vyf agentskappe was dit die eerste organisasie wat in sy nuwe rol begin funksioneer het, maar daar was vroeg al teenkanting en hofaansoeke vanuit verskeie oorde.