Goeie organisasie ontwikkel nie noodwendig op globale vlak nie, maar veel eerder op grondvlak. Op grondvlak bestaan baie opinies oor 'n saak waaruit 'n meer sinvolle besluit geneem kan word, terwyl besluite op hoër vlakke, waar minder mense 'n besluit neem, dikwels nie so goed is nie.
Daarom is dit ook goed vir 'n organisasie soos die Internasionale Proteawerkgroep om belangrike besluite op grondvlak te neem. Dr. Mohammad Karaan, dekaan van die Universiteit Stellenbosch se landboufakulteit, het op dié dorp tydens die 13de internasionale Protea-werksessie, gesê dit is nodig dat die proteabedryf vir oorlewing globaliseer, soos die meeste ander bedrywe, al word dikwels gemeen die proteabedryf is 'n Suid-Afrikaanse kleinnood - "ons eie".
Vandag se wêreld word gekenmerk deur die wegdoening van nasionale state en grense, en die meeste bedrywe strek oor internasionale grense heen. Europa is 'n goeie voorbeeld daarvan.
Ekonomiese aspekte is dus vandag nie meer net binne 'n land se grense van belang nie, maar internasionaal. Produkte moet vandag in grootmaat aan mense internasionaal aangebied word, maar op wyses wat die mark vereis.
Die wêreld se verbruikers wil nie meer voorgeskryf word wat hulle moet verbruik en hoe dit gedoen moet word nie. Karaan sê daar is gevind dat min maatskappye - selfs party grotes - langer as 40 jaar bestaan.
Landbouweekblad, 3 Oktober 2008