Die pruimbedryf sal daarby baat vind om een miljoen tot twee miljoen kartonhouers minder te produseer, maar het ook ’n kommersiële plan nodig om elke kultivar in die beste tydvak moontlik te bemark om die bedryf weer op die wenpad te plaas.
“Vandat ons plant tot aan die einde van die produksieketting moet ons aan winsgewendheid dink,” het mnr. Pietman Wessels, landbou-ekonoom by Frudata, tydens ’n paneelbespreking op Hortgro se tegniese simposium op Somerset-Wes, gesê.
Hoewel talle uitvoergerigte bedrywe hulle vanjaar in stormwaters bevind het weens ongekende probleme in die internasionale en plaaslike logistieke ketting, het pruimboere behoorlik gebloei.