Ses splinternuwe sagtevrugtekultivars is pas aan die bedryf beskikbaar gestel - een perske- en twee nektarienkultivars vir droging, een inmaak-perskekultivar, en vir die varsmark 'n nektarien- en 'n appelkultivar.
Ses nuwe sagtevrugtekultivars wat geteel is deur Infruitec-Nietvoorbij, die Landbounavorsingsraad (LNR) se Instituut vir Vrugte, Wingerd en Wyn, is pas deur die LNR en Culdevco bekend gestel. Culdevco is die onlangs gestigte bemarkingsmaatskappy wat nuwe vrugtekultivars van onder meer die LNR plaaslik en internasionaal bemark.
Dr. Leon von Mollendorff, bestuurder van Culdevco met sy hoofkantoor in die Paarl, sê die kultivars wat deur die LNR geteel word, bly die intellektuele eiendom van die LNR. Tantieme is betaalbaar daarop as dit kommersieel aangeplant word. Die intellektuele eienaarskap word deur wetgewing beskerm.
Hy sê Culdevco, wat in die laaste helfte van verlede jaar tot stand gekom het, het reeds 25 pruim-, 43 perske-, 37 nektarien-, 8 appelkoos-, 7 appel-, 15 peer- en 16 tafeldruifkultivars, benewens die ses nuwe kultivars wat pas bekend gestel is.
Mnr. Chris Smith, sagtevrugteteler en evalueerder van Infruitec-Nietvoorbij op Stellenbosch, sê die drie nuwe kultivars wat vir droging vrygestel is, is Cederberg (perske), en twee Colorburst™-nektariens, naamlik ARC NE-1 en ARC NE-2.
Die nuwe perskekultivar vir inmaak is Cascade, en die nuwe kultivars vir die varsmark is Ruby Sweet (nektarien) en Elegant™ (appel). Al die kultivars is in Mei op 'n inligtingsdag by die LNR bekend gestel.
Droging
Cederberg het 'n medium kouebehoefte van 400 tot 600 Infruitec-eenhede (IE). Teen die eerste en tweede week van Augustus is bome 10% en teen die derde week van Augustus 80% in blom. Die vrugte word in die tweede week van Januarie (Bien Donné) geoes. Die totale oplosbare suiker (TOS) oftewel suikergehalte is 13 Brix.
Smith meen die nuweling het uitsonderlike droogeienskappe en kan as plaasvervanger vir die ouer kultivar Bokkeveld dien. Tantieme wat by aanplanting betaalbaar is, is R3,25 per boom in 2007 en R4,50 per boom in 2008. Geen ekstra tantieme sal betaalbaar wees op die aantal hektare of op die produksie nie.
Die kultivar se kouebehoefte is medium (400 IE tot 600 IE). Dit het benewens sy goeie droogeienskappe ook uitstekende eetgehalte en die TOS is 15 Brix.
Smith sê uitdunning moet nie te vroeg gedoen word nie - eers ná vrugset, maar voor pitverharding. Die kultivar het benewens sy ander puik eienskappe ook 'n baie mooi voorkoms. Tantieme betaalbaar is R3,25 per boom, asook 'n produksietarief van R50 per ton vars en R355 per ton gedroog.
Inmaak
Die boomgrootte is medium en bome is in die tweede week van Augustus 10% en in die vierde week van Augustus 80% in blom. Die kultivar is dus minder onderhewig aan laat ryp. Oestyd is die laaste week van Januarie op Bien Donné.
Kouebehoefte is medium (400 IE tot 600 IE) en die TOS 13 Brix. Wat die kultivar ideaal maak, volgens Smith, is dat dit in die venstertydperk tussen die kultivars Neethling en Kakamas ryp word.
Tantieme van R3/boom is betaalbaar op Cascade, asook 'n hektaar-tantieme van R300 in die der jaar, en R600 vanaf vier jaar ná vestiging.
Varsmark
In die laaste week van Julie is dit 10% en eerste week van Augustus 80% in blom. Die oestyd op Bien Donné is besonder vroeg, naamlik gedurende die eerste week van November. Dié taaipit-kultivar se TOS is 11 Brix. Dit het goeie koueberg-eienskappe en hou goed tot week vyf (begin Februarie) teen -0,5 grade C.
Boomtantieme is R3,50, hektaartantieme R1 500 vanaf drie jaar en R3 000 vanaf vier jaar ná vestiging.
Die appel is in middel Oktober in volle blom en oestyd is einde April, sowat 10 dae ná Pink Lady in die Koue-Bokkeveld.
Die kultivar het 'n hoë kouebehoefte van meer as 800 IE en is dus nie geskik vir warmer gebiede nie.
Smith sê dit het 'n puik eetgehalte met 'n baie sterk soet smaak. Voorts het dit 'n goeie opbergvermoë. Boomtantieme beloop R4 en produksietantieme R2,50 per boks of 20c per kilogram. Tru-Cape het die eksklusiewe uitvoerregte vir die kultivar.
Von Mollendorff sê Culdevco het aansoek gedoen om planttelersregte vir verskeie nuwe peer-, perske-, pruim- en nektarienseleksies, terwyl 'n aantal nuwe kultivars in 2008 beskikbaar sal wees vir kommersiële aanplanting.
Landbouweekblad, 10 Augustus 2007