
Met groot afwagting het ‘n groep joernaliste onlangs by die KWV se Hek 3 opgedaag: In die vatekelder het daar immers ‘n paar indrukwekkende oesjare van die Suid-Afrikaanse ikoon, Roodeberg, gewag om geproe te word.
Om by te dra tot die opwinding het die uitnodiging ook van ‘n “misterieuse gas” gepraat. Maar meer daarvan later.
Roodeberg is die eerste keer in 1949 deur dr. Charles Niehaus, in vele opsigte ‘n pionier in die wynbedryf en ook die vader van sjerrie in Suid-Afrika, gemaak. Die rooi versnit was eksklusief vir die uitvoermark beskikbaar, en is as dié Suid-Afrikaanse rooiwyn beskou.
Later jare kon Suid-Afrikaners ook dié wyn in die hande kry, maar mettertyd het Roodeberg ‘n bietjie van sy oemf verloor. En nou glo die KWV-span dit is weer tyd om daardie veerkrag terug te sit in Roodeberg se stap.
Wynskrywers was verbaas
KWV se hoofwynmaker, mnr. Richard Rowe, het die Roodeberg 1977, 1999, 2009 en 2010 uit die argiewe gaan haal – ‘n seleksie wat veral oor die insluiting van die 1977-oesjaar die wynskrywers verbaas én beïndruk het.
Diegene wat tóé al in die rondte was, beweer 1977 was ‘n baie swak oesjaar, en veral uitdagend vir die Cabernet Sauvignon-kultivar. “Dit was nie ‘n oesjaar om te onthou nie,” het Rowe gesê.
“Maar baie van hierdie wyne is nie gemaak om 30 tot 35 jaar te hou nie, en toe ek die ’77 trek, het dit redelik vars daar uitgesien. Dit is ‘n baie goeie wyn, selfs al kom dit uit ‘n aaklige oesjaar.”
En selfs die gedugste wynskrywer moes erken: Dié wyn, met sy sterk tamatieblaarkarakter, het nog skop in hom.
Varsheid en mondgevoel
Rowe meen die porsie Cinsaut in die versnit dra by tot die gewig en “vrygewigheid” van die oupa. Die 1999-oesjaar het verbaas met sy lewenskragtigheid, kleur, varsheid en mondgevoel.
“Dit is ‘n versnit van gelyke dele Cabernet Sauvignon, Shiraz en Merlot en ‘n wyn wat baie jonger vertoon as wat dit werklik is,” meen Rowe.
Die 2009 en 2010-oesjare spog elkeen met ‘n druppel Petit Verdot en Tannat. Volgens Rowe stem die nuwe rigting wat Roodeberg gaan inslaan ooreen met hoe die 2010-oesjaar daar uitsien.
“Een van ons planne is om die persentasie Shiraz te verhoog en die persentasie Merlot te verlaag. Dit sal ‘n sappiger, voller wyn tot gevolg hê.” Hy meen die trefpunt is ‘n wyn met 60% Shiraz, 35% Cabernet Sauvignon en die balans wat uit Merlot, Petit Verdot en Tannat bestaan.
Verpakking in die kollig
Behalwe dat daar baie aandag aan gehalte van die wyn geskenk sal word, gaan die KWV-span hom onder meer ook op verpakking toespits sodat Roodeberg weer sy plek in die premiummark kan opeis.
Ná die wynproe was dit tyd om die geheimsinnige gas – wat toe nie ‘n iemand was nie, maar ‘n iets - te verwelkom. Hoewel die dromme nie gerol het nie, was die afwagting voelbaar toe ‘n spesiale bottel Dr. Charles Niehaus Roodeberg 2010 onthul is.
Mnr. De Bruyn Steenkamp, Roodeberg se handelsmerk-ambassadeur, vertel: “Ons het gewonder wat ons met Roodeberg sal doen, en ons het gedink dit sal gepas wees om die vader van Roodeberg te vereer.”
Slegs 9000 liter van hierdie wyn word gemaak en in ‘n pragtige bottel en weelderige rooi kissie verpak. “Ek noem dit sommer die super-Roodeberg!” verklaar Steenkamp.
Dit is ‘n versnit van 50% Shiraz, 40% Cabernet Sauvignon en 10% Merlot en het 14 maande in eikehoutvate spandeer.
Vir die bekendstelling van die Dr. Charles Niehaus Roodeberg 2010, kyk gerus na dié video: Daar sal ook binnekort in Landbouweekblad ‘n volledige artikel verskyn waarin onder meer die produsent se rol in Roodeberg se pad vorentoe bespreek word.
9 November 2011