
As daar twee goed is wat boere lelik omkrap, is dit die administratiewe las en koste van sertifisering vir gehaltestandaarde, het mnr. Martin Bergh, besturende direkteur van Rooibos Bpk., op ’n boeredag op Gifberg, Vanrhynsdorp, gesê. Tog sal boere moet leer om aan die standaarde te voldoen as hulle op die duur hul produkte wil verkoop. “Dit is hier om te bly. Soos ons daaraan gewoond raak, sal ons sien dit is nie net ’n slegte ding nie.”
Tans word organiese sertifisering of sertifisering vir volhoubare boerdery op die vlak van die verwerker gedoen, maar daar moet na die plaasvlak teruggegaan word. Bergh sê hy dink hulle is nou baie naby aan ’n punt waar die situasie dat SAGap (’n wetlike vereiste wat voedselveiligheid in die hele uitvoerketting wil verseker) net geld vir voedsel wat uitgevoer word, iets van die verlede is. “Dit gaan verander. Die verbruiker wil eenvoudig weet waar sy kos vandaan kom, of sy kos veilig is en hy dit kan vertrou. Die enigste manier om dit te doen, is deur sertifisering.”
Volgens Bergh is Rooibos Bpk. besig met die sertifisering vir voedselveiligheidstelsels (FSSC). “Dit gaan nie lank wees nie, dan gaan die teeverpakkers wat reeds FSSC-sertifisering het, vir ons sê hulle koop nie meer by ons as ons dit nie het nie. Ons moet ’n plan beraam hoe ons dit gaan doen sodat dit deel van ons alledaagse werk word en nie ’n pyn word nie.” Hy het erken dat sertifisering ’n administratiewe las en koste vir boere is, dog Rooibos Bpk. wil ’n volwaardige sertifiseringsafdeling vestig. “Ons gaan die afdeling beman met ’n sertifiseringsbeampte wat elke leweransier se dokumente gaan hanteer. Die boer se administratiewe las gaan wees dat hy vorms moet invul, maar hy sal gehelp word en vooraf geoudit word.”
Aangesien SAGap vir kleiner boere total onbekostigbaar was, gaan Rooibos Bpk. Met PPECB (die raad op die uitvoer van bederfbare produkte) onderhandel om ’n gemeenskaplike sertifisering te kry om die grootste deel van die koste van die maatskappy te verhaal deur ’n eenvormige stelsel daar te stel. Bergh het gesê dit gaan tyd kos, maar teen 2015 gaan hulle alle rooibosboere wat tee aan hulle lewer, gesertifiseer hê “op ’n eenvormige stelsel wat baie min gaan kos”.
Mnr. Shubesco Heilbron, hoof van die PPECB se program vir voedselveiligheid, het op die boeredag gesê die onlangse gebeure in die sitrusuitvoerbedryf het getoon hoe belangrik voedselveiligheid vir marktoegang is.
R2,1 miljard-mark
Die kleinhandelwaarde van die totale teemark is R2,1 miljard, en het vanjaar met 8,7% gegroei, het mnr. Joe Swart, mede-eienaar van Joekels Teeverpakkers, op die boeredag gesê. Swart tee maak 67% van die mark uit, rooibostee 27% en vrugte- en kruietee die res. Joekels besit onder meer die Laager-handelsmerk, wat die naasgrootste handelsmerk vir rooibostee in Suid-Afrika is, met ’n markaandeel sowat 19%, terwyl Freshpak die grootste is met ’n markaandeel van 45%. Swart sê die groeiende plaaslike mark is steeds die brood en botter van die rooibosbedryf. “In 2001 was die plaaslike mark vir rooibostee 3 500 ton, nou is dit amper 8 000 ton.” Amper 60% van alle tee wat verkoop word, word in Gauteng verkoop.
Volgens Swart is tee steeds relatief goedkoop, en vaar dit goed selfs as die ekonomie taai is. Hy glo nietemin rooibosteeverkope is nou op ’n drumpel waar die prys baie goed bestuur moet word om nie markaandeel aan swart tee, wat steeds goedkoper is, te verloor nie.
Gesonde saailinge
Die rooibosbedryf is een van die min bedrywe wat elke twee jaar so ’n omvattende boeredag hou waartydens elke aspek – van die saad tot die koppie tee – in diepte bespreek word. Produksiepraktyke het weer aandag van ’n span wetenskaplikes geniet. Die produksie van rooibostee hang af van gesonde saailinge.
Die bedryf het met die samewerking van dr. Sandra Lamprecht, plantpataloog van die LNR se instituut vir navorsing oor plantbeskerming, ’n program ontwikkel om saailingkwekers te motiveer om gesonde saailinge aan die bedryf beskikbaar te stel. Toe sy die Saailingkweker van die Jaar-eerbewys aan mnr. Robert Bergh van Zeekoevlei, Clanwilliam, oorhandig het, het sy gesê ’n top-saailingkweker moet passie hê, toegewyd wees en elke dag werk.
Boere het vanjaar R14,75/kg tee gekry.