
’n Groeiende oorskot aan rooibostee en gevolglike lae produsentepryse kan daartoe lei dat talle boere se inkomste so onder druk kom dat hulle mettertyd die bedryf verlaat.
’n Sameloop van verskillende omstandighede het daartoe gelei dat rekordoeste – wat aansienlik meer as die vraag na rooibostee hier en in die buiteland is – die afgelope drie jaar behaal is, sê mnr. Johan Brand, tegniese bestuurder by Rooibos Bpk.
Die vraag het toegeneem tot die huidige 12 500 ton per jaar, terwyl die 2007-oes 15 000 ton was, verlede jaar se oes 18 000 ton en vanjaar se oes 19 000 ton. Dié groot oeste het hul oorsprong in groter aanplantings in reaksie op die hoë prys van sowat R16/kg wat in 2004 betaal is ná klein oeste vanweë ’n paar besonder droë jare.
Sedertdien was die reënval weer normaal en het beter boerderymetodes meegewerk dat die totale oes sedert 2006 amper verdubbel het. Pryse het begin daal en vanjaar het Rooibos Bpk., wat sowat twee derdes van die totale oes koop, gemiddeld R6,23/kg betaal. Premies vir gehalte en organiese tee was tot R8/kg.
Ten spyte van die groot oeste en voorrade gehou word, gaan boere voort om meer tee aan te plant.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 20 November 2009.
12 November 2009