
Die grootmaat rooibostee-verskaffer, Rooibos Bpk, gaan die Mededingingstribunaal vandag (Dinsdag) versoek om hom van ‘n klag van onmededingende praktyke uit te sluit.
Volgens die teeverskaffer is die Mededingingskommissie se klag teen Rooibos nie volledig, soos uiteengesit in die Wet op Mededinging (Wet 89 van 1998), nie.
Die Mededingingskommissie het ‘n klag van oorheersing teen Rooibos by die tribunaal ingedien. Die kommissie beweer verder dat Rooibos sy heersende posisie gebruik om sekere rolspelers sodoende te beperk.Die ondersoek is van stapel gestuur nadat Coetzee & Coetzee, ‘n mededinger in die teemark, ‘n klag by die kommissie ingedien het.
Volgens Coetzee & Coetzee het Rooibos en sy verpakkers eksklusiewe ooreenkomste aangegaan. Hiervolgens sou Rooibos sy produkte slegs aan National Brands (NB), Coffee Tea and Chocolate Company (CTCC), Unilever SA Foods en Joekels Tea Packers gee om te verpak.
Nadat die kommissie die klagte ondersoek het, het dit bevind dat nuwe toetreders tot die mark sukkel om verder in die waardeketting toe te tree, aangesien die genoemde kontrak hulle uitsluit.
Rooibos se verweer is egter dat die kommissie nie die onmededingende effek wat die eksklusiewe verskaffingsooreenkoms inhou, geïdentifiseer het nie.
Rooibos se bedoeling met die ooreenkomste is, volgens die teevervaardiger, irrelevant tot die mededingendheid van die kontrakte.
Die kommissie beweer ook dat Rooibos volume-afslag aan die betrokke verpakkers gee. Rooibos sê egter dat die kommissie nie bewys het dat hierdie gedrag ‘n onmededingende effek het nie.Laastens identifiseer die kommissie nie die partye wat deur die onmededingende praktyk benadeel word nie.
5 Augustus 2009