
Rooibosboere word aangeraai om hulle risiko’s rakende klimaat te versag, veral weens veranderinge wat voorkom, sê mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou.
Luidens ‘n verklaring sê Van den Berg produksierisikos is aan ’t toeneem, hetsy dit aan klimaatsverandering of veranderde weerpatrone toegskryf kan word.
Die rooibosbedryf het die afgelope tyd sy kommer oor weersveranderinge en die invloed wat dit op die bedryf se voortbestaan kan hê, bespreek. Rooibostee is ‘n baie gespesialiseerde gewas wat nét in sekere dele van die Wes-Kaap aangeplant kan word. Die bedryf teken ‘n jaarlikse omset van sowat R600 miljoen aan, en dit verskaf werksgeleenthede aan sowat 4500 mense.
“Klimaatsverandering is die voltydse verandering van die gemiddeld en dit is meestal ‘n gevolg van menslike optrede. Weersveranderinge, aan die ander kant, is ‘n normale afwyking. Veranderinge moet oor ‘n baie lang tydperk, meer as ‘n paar jaar, nagegaan word om toekomstige patrone vas te stel,” verduidelik Van den Berg.
Droër toestande
Droër toestande word wel vir die Cederberg-omgewing voorspel, waar rooibostee die beste aard. Die 2011 Eden Studies, wat deur Santam in samewerking met die WNNR, die Universiteit van Kaapstad en die WWF onderneem is, dui wel aan dat sekere stappe reeds geneem kan word om risiko’s te beperk en hantering van klimaatsverandering te vergemaklik.
Van die voorgestelde stappe is:
* Kies die mees geskikte omgewings vir verbouing en bly weg van marginale produksie-omgewings.
* Die beste beskikbare genetiese materiaal moet geplant word, hoewel dít in die geval van rooibostee nie so eenvoudig is soos in die geval van mielies en koring nie.
* Verbeter die proses om nuwe gewasse te vestig deur optimale verbouingstegnieke aan te wend. Bewaringsboerdery is ‘n praktyk wat nuwe metodes bied om die waterhouvermoë van baie sanderige grond, soos dié waarin rooibos gedy, te verbeter.
* ‘n Deklaag vir sanderige grond kan waterverlies tot ‘n groot mate verminder en grondtemperature verlaag. Dit kan ook die simbiotiese effek van mikro-organismes in die grond verbeter.
* Boere word aangemoedig om versekering vir natuurlike rampe uit te neem.
Van den Berg sê die grootste probleem met beplanning vir klimaatsverandering is om te kan bepaal of die veranderinge deel van natuurlike patrone is of omdat dit “werklike veranderinge” is. “Ten spyte van al die onbeantwoorde vrae in die voorspelling van weerpatrone kan en moet elke boer besliste stappe neem om potensiële skade aan hulle gewasse te versag.”
24 April 2012