
Die sogenaamde pienk lid van die wynfamilie, die rosé, is een van die vinnig groeiendste produkte in die bedryf.
Me. Su Birch, hoof uitvoerende beampte van Wines of South Africa (WOSA), sê rosé-wyn se gewildheid groei wêreldwyd.
Volgens Euromonitor het dié wynkategorie met 7% in 2009 gegroei, die vinnigste van alle wyne. Sowat 200 miljoen 9 liter-bokse roséwyn is tydens dié jaar verkoop. Terselfdertyd is sowat 1,2 miljard rooiwyn 9 liter-bokse verkoop terwyl witwyn verkope op 800 miljoen 9 liter-bokse te staan gekom het.
'n Gunsteling
Volgens Birch is Brittanje en Nederland tans die vinnigste groeiende rosé-markte, terwyl dit ook hoog in aanvraag in Frankryk, Amerika, Italië, Spanje en Duitsland is.
Dié unieke wyn het internasionaal meer erkenning as die “ernstige” wyn gekry, wat met sy aantreklike kleur veral vir die somer ideaal is. Birch sê dit bied ook aan beginner-wyndrinkers en nie-ernstige wynliefhebbers toegang tot die mark.
Mnr. Phillip Retief, hoof-uitvoerende beampte van Van Loveren-wyne, stem saam met dié stelling. “Dit is beslis ‘n wyn om meer rekening te hou, want die suurinhoud is laer en die rooi druiwe wat daarvoor gebruik word, gee dit heerlike geure. Die mark het aanvanklik op vroue gefokus, maar deesdae bied dit ook vir jongmense ‘n intreepunt tot die wêreld van wyn.”
Die Suid-Afrikaanse mark
Retief sê die Suid-Afrikaanse mark vir rosé-wyn het die afgelope 10 jaar vinnig begin groei, met bykans 15% per jaar. Volgens Nielsens se jongste navorsing het die rosé-mark vir 2010 tot dusver met sowat 13% gegroei.
“In 2000 was daar te veel rooiwyn in die land, en ‘n oplossing met dié rooiyn was om rosé daarvan te maak. Intussen het dié wyn se gewildheid onder wynmakers toegeneem en verbruikers het ook meer bewus geword daarvan, derhalwe sien mens deesdae meer en meer rosé’s op die mark. Meer droë variasies word ook in die mark ingebring,” verduidelik Retief.
Van Loveren se Four Cousins Rosé is tans sy topverkoper, en volgens Retief is dit die afgelope vyf jaar ook die top rosé-verkoper in Suid-Afrika.
Na verwagting gaan dié wyn die bedryf in die toekoms meer skakerings van pienk laat sien.
29 November 2010