
Die rosyntjiebedryf langs die Oranjerivier se volhoubaarheid word nie bedreig nie, sê Droëvrugte Tegniese Dienste (DTD). Dié organisasie het ’n strategiese ondersoek gedoen oor dié kwessie om rosyntjieboere se behoeftes en vereistes te bepaal.
Die ondersoek het getoon dat die pryse van alle soorte rosyntjies oor die afgelope twee jaar verdubbel het, maar dat ’n tekort aan finansiering uitbreiding deur nuwe aanplantings kniehalter. Nuwe verpakkingsaanlegte wat vanweë die bedryf se herstrukturering ontstaan het, werf elkeen hul eie kliënte, wat tot die verlies van ’n onafhanklike, landboukundige adviesdiens gelei het.
Só ’n diens is een van die boere se grootste behoeftes, sê DTD. Kwessies soos ’n gehaltemerk, die beskikbaarheid van bemarkingsinligting en ’n moontlike promosieprogram is ook bespreek. DTD het nie tans die mannekrag, infrastruktuur of bemarklingsmandaat om dié kwessies te takel nie.
DTD gaan die moontlikheid van ’n nuwe landboukundige adviesdiens ondersoek. ’n Groter oes van pitlose druiwe en bestendige prys vir rosyne sal die volhoubaarheid van dié bedryf verseker, sê DTD.
26 Augustus 2009