Soos alom bekend, is baie Suid-
Afrikaanse vrugteprodusente bekommerd
dat China, met sy massiewe
vrugteproduksie, appels,
pere, druiwe en ander vrugte op die Suid-
Afrikaanse mark kan stort en daardeur die
mark kan vernietig.
Dit is egter bloot onmoontlik,want vrugte
kan nie, soos klere of skoene, eenvoudig
op groot skaal op 'n skip gelaai en na
Suid-Afrika gestuur word nie, sê prof.Daan
Louw, hoof van Optimale Agri-Besigheidstelsels
(OABS) in die Paarl. Vrugte is maklik
bederfbaar en om dit in verkoelde toestande
van China na Suid-Afrika te stuur, is
duur, gespesialiseerd en besaai met risiko's.
Louw het op 'n besoek aan China 'n
produksiekosteberaming gedoen en die
beraamde kleinhandelprys van ingevoerde
Chinese appels in Suid-Afrika (indien dit
ooit sou gebeur) ondersoek. Dit help nie om
met vae veronderstellings vrees te wek nie
- dit was tyd om die ware feite en syfers op
die tafel te sit, sê hy.
Die eerste inisiatiewe om marktoegang
tot China vir Suid-Afrikaanse sagtevrugte
te kry, het al in 1999 begin. Die meeste onderhandelinge
het gegaan oor fitosanitêre
vereistes - 'n onderwerp wat nie vinnig afgehandel
kon word nie.
In Februarie verlede jaar is die finale protokolle
onderteken. Daarvolgens mag Suid-
Afrika tafeldruiwe na China uitvoer, terwyl
China appels en pere na Suid-Afrika kan
stuur. Volgens die protokol sal Suid-Afrikaanse
appels en pere eers ná 18 maande
ná die ondertekening na China uitgevoer
kan word - dus so teen die tweede helfte
van vanjaar.
Die Chinese mark is ontsaglik groot. As
'n mens van die veronderstelling uitgaan
dat sê maar 10% van dié land se bevolking
moontlik Suid-Afrikaanse sagtevrugte kan
koop, beteken dit reeds 130 miljoen mense.
Die land se arbeidsmag bestaan uit meer
as 760 miljoen mense. Sowat 95% van die
inwoners is geletterd en die land se ekonomie
groei teen 10,5% of meer per jaar. Daar
is dus uitstekende markgeleenthede.
Louw meen nie Suid-Afrika moet die
ganse Chinese mark in sy visier probeer
kry wat vrugte-uitvoer betref nie. As jy jou
bloot op die groot stede, soos Shanghai,
Beijing, Hongkong en Chongqing, asook
die boonste segment van die mark met puik
vrugte en ander landbouprodukte toespits,
sal baie goeie winste moontlik wees.
Aan die ander kant is baie plaaslike
sagtevrugteboere bang vir die "storting"
van Chinese vrugte in Suid-Afrika noudat
die protokolle die invoer van sulke vrugte
moontlik maak.
Maar wat is storting? Louw sê storting
vind plaas wanneer een land sy produkte
in 'n ander land verkoop teen laer pryse as
wat in die land van oorsprong vir die produkte
gevra word. Dit is ook wanneer die
verkoopprys laer as die produksieprys van
die produk is. Die verskil tussen die prys in
die land waarin die produk gestort word en
die prys in die land van herkoms, word die
stortingsmarge genoem.
Louw het tydens sy besoek syfers en
data van landboubeamptes en ander landboukundiges
in China gekry. Heelwat inligting
het ook in gesprekke met ander instansies
na vore gekom.
Omdat geen appels op plase in China
gepak word nie, is die verpakkings- en
produksiekoste te verdeel. Rekordhouding
bestaan feitlik nie op Chinese plase nie,wat
die ondersoek bemoeilik het. Tabel 1 gee 'n
opsomming van appelproduksiekoste per
hektaar en per ton in China en Suid-Afrika.
Uit die tabel blyk dit duidelik dat daar
groot verskille in die koste per hektaar tussen
China en Suid-Afrika bestaan. Die produksiekoste
in China is sowat 30% van dié
in Suid-Afrika. Maar die koste per ton toon
'n heel ander prentjie omdat die Suid-Afrikaanse
opbrengs sowat drie maal hoër as
dié van China is. Die koste per ton is slegs
marginaal hoër in Suid-Afrika.
Waar lê die verskille? Louw meen dit is
hoofsaaklik weens die plantdigtheid in die
boorde, die produksiemetodes en arbeidskoste.
In Suid-Afrika is die plantdigtheid
dubbeld dié in China. In China word die
meeste arbeid per hand gedoen, teenoor
grootliks meganisering in Suid-Afrika. Arbeidskoste
hier is dubbeld dié in China.
Verder is daar 'n taamlike groot verskil
in die bemestingsmetodes (die Chinese
gebruik natuurlike kompos) asook
in plaag- en onkruidbestryding. Die Chinesemeganisasiekoste
is bykans nul en hul
brandstofkoste is ook uiters laag.
In tabel 2 gee Louw 'n opsomming van
die produksie- en verpakkingskoste per
boks van 10 kg en 12,5 kg. Daaruit blyk
groot verskille in die algehele plaasinkomste.
Chinese boere verkoop hul appels teen
gemiddeld R1,82 per kg aan die pakhuis.
Die pakhuis verkoop dit weer teen gemiddeld
R3,64 per kg. Dit beteken dat 'n oes
van 14 ton appels (vir die varsmark) aan 'n
Chinese boer sowat 50% van die inkomste
besorg wat 'n Suid-Afrikaanse boer ontvang.
Die totale koste per boks (verpakkingskoste
uitgesluit) is ongeveer dieselfde in
China en Suid-Afrika. Die verpakkingskoste
per boks is R3 tot R4 goedkoper in China
as in Suid-Afrika.
Die pakhuiskoste in China is gemiddeld
R26,20 vir 'n boks van 10 kg. Die na-pakhuiskoste
beloop gemiddeld R24,39 per
boks, blyk uit die ondersoek. Dit beteken
die totale koste van die pakhuis tot op 'n
skip in Qingdao - die belangrikste vrugteuitvoerhawe
in die Shandong-provinsie - is
dus gemiddeld R50,59 per boks, sê Louw.
Wat sê dit alles?
Eerstens dat appels nie T-hemde of tekkies
is nie. Die voorsieningskanaal vir vrugte
(appels) is ingewikkeld en die risiko is
hoog.
Tweedens blyk dit uit die berekeninge
dat produksie per hektaar 'n groot invloed
op koste per ton het. Maar dit sal nie vir
China moontlik wees om sy gemiddelde
produksie van 14 ton of 15 ton per hektaar
op te stoot tot byvoorbeeld 30 ton tot
45 ton per hektaar sonder 'n geweldige
verhoging in sy produksiekoste per hektaar
nie. Die getal appelbome per hektaar
sal opgestoot moet word, plantmetodes en
-stelsels sal teen hoër koste op groot skaal
aangepas moet word en meganisering sal
moet plaasvind, waaronder doeltreffende
bespuitings- en oesprogramme.
Hoewel die gehalte van Chinese appels
aan die toeneem is, het die land nog 'n lang
pad om te stap voordat 'n groot deel van
sy appeloes aan internasionale gehaltestandaarde
sal voldoen en hy sy uitvoer kan
verhoog.
Verder is Suid-Afrika 'n klein mark vir
China en ver geleë. Die meeste Chinese
landbouleiers en -kenners dink nie dit is
haalbaar om appels winsgewend na Suid-
Afrika uit te voer nie. Die Suid-Afrikaanse
mark vir Chinese Fuji-appels sal waarskynlik
grootliks tot die Chinese bevolking beperk
wees en dus bloot 'n nismark wees.
Uit die berekeninge is dit duidelik dat
die Chinese nie wins sal kan maak uit appeluitvoer
na Suid-Afrika nie, want die
prys van Suid-Afrikaanse Fuji-appels sal in
die grootste deel van die bemarkingstydperk (November tot Januarie) heelwat laer
wees as wat dit sal kos om Chinese Fuji's in
te voer. Sou Chinese appels uit Shandong in
Suid-Afrika vir minder as R9,50 per kg verkoop
word, sal dit 'n aanduiding wees dat
sulke appels volgens die Wêreldhandelsorganisasie
se standaarde wel gestort word.
Daar is beslis goeie geleenthede vir Suid-
Afrika, soos vroeër verduidelik ten opsigte
van China se groot bevolking. As Suid-Afrika
net 10% van sy appeloes na China kan
uitvoer, sal dit groot verligting bring in sy
tradisionele markte (Europa en Brittanje),
wat reeds oorlaai word. Dieselfde geld die
plaaslike mark in Suid-Afrika.
As China as bemarkingsgeleentheid nie
benut word nie, is 'n wonderlike geleentheid
vir die plaaslike sagtevrugtebedryf
verby, want dié geleentheid sal baie vinnig
deur mededingers aangegryp word, meen
Louw.
Bedrywe verskil beduidend
Hoe vergelyk die Chinese appelbedryf met dié van Suid-Afrika?
China produseer 25 miljoen ton appels per jaar, wat 32% van
die wêreldproduksie uitmaak. Vergelyk dit met die naasgrootste
produserende land, Amerika, wat maar 'n "skamele" 4,3 miljoen
ton appels per jaar produseer.
Vir Suid-Afrikaners lyk die Chinese produksiesyfers vreesaanjaend,
maar China voer maar sowat 780 000 ton appels per jaar
na die res van die wêreld uit (3,1 % van sy produksie).
Daar is sowat 380 miljoen boere wat op klein lappies grond
van minder as 0,5 hektaar boer. Dan word daar boonop ook ander
landbouprodukte saam met die appels geproduseer.
Suid-Afrika voer jaarliks sowat 305 000 ton appels uit, wat
sowat 40% van sy totale produksie uitmaak. Die aantal hektaar
onder appelboorde op 'n appelplaas hier is 60 tot 120.
In China word appels met familie-arbeid verbou. Die gemiddelde
loon is R25 per persoon per dag. Dit is sowat die helfte van
die minimum loon wat in Suid-Afrika betaal moet word. China se
arbeidskoste is dus die helfte van dié in Suid-Afrika.
In China word appels grootliks organies geproduseer. Boere
gebruik natuurlike kompos. Wanneer hulle wel bespuit, doen hulle
dit op klein skaal met rugsakspuite. 'n Tipiese Chinese plasie word
gewoonlik met pikke, grawe, vurke, miskien 'n klein trekkertjie en
'n rugsakspuit bewerk. Op party is 'n klein skuurtjie en op ander
word die appels ondergronds in tonnelskure opgeberg.
Dit toon duidelik dat die kapitaalbelegging op 'n Suid-Afrikaanse
vrugteplaas baie groter as in China is, sê prof. Daan Louw,
hoof van Optimale Agri Besigheidstelsels (OABS) in die Paarl.
In China word 'n boer se appels van hom gekoop. Hy het niks
met die bemarking daarvan te doen nie. Daarteenoor is Suid-
Afrikaanse vrugteboere nou by die bemarking en uitvoer van hul
produk betrokke. Hulle is ook ten volle ingelig daaroor. Feitlik ál
sowat 730 plaaslike appel- en peerprodusente in Suid-Afrika is
bekend met en betrokke by sy produksie-organisasie.
In China se Shaanxi-provinsie alleen is daar 28 miljoen boere.
"Hoe organiseer jy soveel boere? Dit is onmoontlik," meen Louw.
Tydens sy besoek aan China het hy besef dat een van die
grootste struikelblokke in dié land se appelproduksie die gebrek
aan kommunikasie is.
Dit is ook 'n mite dat die Chinese regering die kleinboere op
groot skaal subsideer. Volgens die Produsente-Ontledingsindeks
(POE) word Chinese boere omtrent 7% deur hul regering ondersteun,
teenoor Suid-Afrika se gemiddelde 5 %. Die enigste verskil
is dat Chinese boere sedert 2006 van belasting vrygestel is in 'n
poging om landelike gebiede vinniger te help ontwikkel.
"Hoe subsidieer enige regering 380 miljoen boere sonder om
dadelik bankrot te raak?" vra Louw.
'n Verdere faktor om in gedagte te hou, is die feit dat die Chinese
appelopbrengs in dié stadium maar gemiddeld sowat 15 ton per
hektaar is, teenoor Suid-Afrika se gemiddelde 55 ton per hektaar.
Die Chinese is egter besig om hul appel- en peerbedryf op groot
skaal te moderniseer, soos in vorige uitgawes van Landbouweekblad berig is.
Landbouweekblad, 22 Februarie 2008