"Op die uitvoer- en die binnelandse
markte beleef ons 'n
groter vraag na avokado's,
wat gekoppel is aan volhoubare,
winsgewende opbrengste," sê mnr.
Don Westcott, voorsitter van die Suid-
Afrikaanse Avokadokwekersvereniging
(SAAKV).
Westcott het tydens die SAAKV se
jaarvergadering by Magoebaskloof naby
Tzaneen gesê 'n voorbeeld van volgehoue
goeie pryse die afgelope seisoen was die
sowat 1,2 miljoen bokse (4 kg) avokado's
wat tussen weke 20 en 29 op die Europese
markte van die hand gesit is sonder dat die
prys ineengestort het.
Dit is te danke aan goeie volume-koördinering
tussen agente asook die volgehoue
internasionale kommunikasie oor die totale
volumes wat die onderskeie produsentelande
gaan aanbied. Danksy hierdie aksies,
waarby die SAAKV jare reeds 'n leidende
rol speel, is 'n situasie geskep waarin die
Europese vraag na avokado's gehandhaaf
is, uiters beperkte voorraad opgebou het en
die bruto verkoopprys op 'n winsgewende
vlak gebly het.
"'n Mens hoef net te dink aan 'n paar
jaar gelede toe 700 000 bokse per week voldoende
was om die Europese mark te oorlaai
met rampspoedige finansiële gevolge
vir Suid-Afrikaanse boere," sê Westcott.
In die 2007-seisoen is 9,4 miljoen bokse
uitgevoer teenoor die 8,9 miljoen bokse wat
in 2006 verskeep is. Weens rypskade laat in
Mei het die bedryf 'n geskatte 500 000 tot
600 000 bokse verloor. As hierdie verlies in
berekening gebring word, beteken dit dat
Suid-Afrika se uitvoer-avokado-oes meer
as 10 miljoen bokse kon wees.
Wat die plaaslike markte betref, toon
beskikbare statistieke dat 5 miljoen bokse
in 2007 verkoop is teenoor die 5,1 miljoen
bokse wat in 2006 aangebied is. Hierdie
syfers sluit volumes uit wat regstreeks aan
kleinhandelaars, die informele sektor en
verwerkers gelewer is.
As hieruit afgelei word dat die plaaslike
mark sowat 50% van die totale volume
uitmaak, beteken dit dat Suid-Afrika se
totale avokadobedryf sowat 80 000 ton of
20 miljoen bokse verteenwoordig. En dit
beklemtoon die groei in en die toenemende
belangrikheid van die plaaslike marksektor.
Die afgelope seisoen was ook die eerste
keer dat nie met skeptisisme gekyk is na die
kultivar Hass as "fabrieksgraad"-vrugte
nie, want dit was uiters gesog by die informele marksektor.
Volgens Westcott het die SAAKV se
generiese promosieveldtogte en markontwikkelingspogings
die volgende voordele
ingehou:
R19,4 miljoen bewerkstellig deur R1,8 miljoen
te bestee. Marknavorsing dui aan dat
die persentasie Britte wat bewus is van avokado's
en dit eet, toegeneemhet van 16% in
2001 tot 27% in 2007.
waaraan R300 000 bestee is, het tot advertensiewaarde
van R2 miljoen gelei.
Met avokadoverbruiksyfers van 34 g per
kop in Rusland, 150 g in Duitsland, 500 g
in Brittanje en 1 380 g in Frankryk het die
bedryf nog 'n lang pad om uit te kom by
die 3,5 kg per kop in Chili, 4 kg in Israel en
8 kg in Mexiko.
Tydens die internasionale bemarkings- en
promosiewerkgroep se vergadering verlede
jaar in Chili is besluit om ondersoek
in te stel na 'n moontlike promosieheffing
per boks avokado's wat die lidlande van
die Europese Unie bereik. Hierdie beginsel
is gegrond op 'n model van Amerika waar
verpligte heffings op vrugte uit Suid-Amerika
suksesvol ingestel is. Met die heffing is
promosieveldtogte gevoer, die verbruik van
avokado's verhoog en die winsgewendheid
van die bedryf verbeter. Die toepassing
daarvan op die EU-markte word bespreek.
Op Suid-Afrikaanse bodem het R600 000
wat aan 'n bewusmakingsveldtog bestee is,
tot advertensiewaarde van sowat R4,5 miljoen
gelei. Met 'n plaaslike verbruik van
850 g per kop meen die SAAKV daar is nog
ruimte vir markontwikkeling.
Die SAAKV se veldtog teen onvolwasse
vrugte op markte vroeg in die seisoen vorder
flink. Dit bestaan uit 'n opvoedings- en
'n bewusmakingsprogram asook fisieke inspeksies
op die varsproduktemarkte saam
met die Departement van Landbou en die
Raad van Toesig op die Uitvoer van Bederfbare Produkte. Die hoofdoel van hierdie
veldtog is om verbruikersweerstand te
voorkom en om avokado-bewusmaking en
-verbruik in Suid-Afrika te bevorder.
Subtrop, die betreklik nuwe oorkoepelende
kwekersvereniging vir die avokado-,
lietsjie-, makadamia- en mangobedryf, het
sy voete ná die eerste jaar goed gevind. Dit
bedien die bedrywe deur voorligtingsbeamptes
wat aan spesifieke streke toegewys
is, interaksie met boere deur studiegroepe,
persoonlike kontak en die media.
Deur Subtrop word opkomende boere
met gereelde vergaderings ondersteun.
In die Levubu-gebied bestaan reeds goeie
interaksie tussen opkomende en kommersiële
avokadoboere. Subtrop sal oor die
volgende twee seisoene praktiese handleidings
vir opleiding saamstel.
Die SAAKV ondersteun avokado-navorsing
om te verseker dat die bedryf op
die snypunt bly van aspekte soos produksie,
verpakking, en die na-oes- en logistieke
fasette van die bedryf.
As gekyk word na neigings in globale
avokadoproduksie is die ontwikkeling en
die ontsluiting van nuwe markte vir die
vereniging 'n voorrangsaak.
Daar word veral aandag gegee aan
marktoegang tot Amerika waarvan baie
van die vereistes vir die protokolle waarskynlik
ook vir toegang tot ander lande ingespan
kan word.
In die 2006/'07-seisoen is 250 000 ton
avokado's aan markte in die EU gelewer
teenoor die rampspoedige 1998/'99-seisoen
toe 120 000 ton gelewer is. Vanjaar (2008)
word verwag dat 210 000 ton gelewer sal
word weens rypskade in Chili en Israel, sê
Westcott.
Landbouweekblad, 18 April 2008