'n Suid-Afrikaanse olyfolie - Willow Creek landgoed in die Nuyvallei naby Worcester se vlagskip Director's Reserve (Coratina en Frantoio versnit) - het by die L'Orciolo d'Oro olyfolie-kompetisie in Italië goed presteer. Die olie het 'n eervolle vermelding ontvang en die landgoed se Extra Virgin (Frantoio, Leccino en Mission versnit) het 'n onderskeiding behaal.
Olyfolies van 10 lande, wat klassieke produsente soos Italië, Spanje en Griekeland insluit, het vir die kompetisie ingeskryf. Die wedstryd word deur die Italiaanse departement van landbou onderskryf en die Enohobby Clud bied dit vir die tiende agtereenvolgende jaar aan. Die olies word deur 'n paneel van geakkrediteerde olyfolie-proeërs van regoor Italië beoordeel.
Me. Louise Rabie van Willow Creek meen die Nuyvallei se terroir speel 'n bepalende rol in die gehalte van hul olies. Gunstige weers- en groeitoestande, asook toegang tot besproeiingswater, kalkryke grond en groot verskille in winter- en somer-, sowel as dag- en nagtemperatuur, vorm die ideale omgewing om olies te vervaardig wat internasionaal 'n indruk maak.
11 September 2008