AFGRI
BEAN
03 Feb
-
9600
0,00
CORN
03 Feb
-
4600
0,00
SOYA
03 Feb
-
9571
0,00
SUNS
03 Feb
-
11718
0,00
WEAT
03 Feb
-
6685
0,00
WMAZ
03 Feb
-
4372
0,00
YMAZ
03 Feb
-
4397
0,00

SA pioniers help Mosambiek tem

Dit kos hare op die tande en groot deursettingsvermoë om grond in Mosambiek te bekom om op te boer, het dié twee Suid-Afrikaners agtergekom. Hulle het waardevolle wenke vir ander boere wat in hul voetspore wil volg. CHARL VAN ROOYEN (cvanrooy@landbou.com) het in Mosambiek gaan kyk hoe die eerste mango-oes ingesamel word.

Dit kos hare op die tande en groot deursettingsvermoë om grond in Mosambiek

te bekom om op te boer, het dié twee Suid-Afrikaners agtergekom. Hulle het

waardevolle wenke vir ander boere wat in hul voetspore wil volg. CHARL VAN

ROOYEN (cvanrooy@landbou.com) het in Mosambiek gaan kyk hoe die eerste mango-oes

ingesamel word.

'n

Suksesvolle mangoboerdery by Hoedspruit in die provinsie Limpopo was later nie meer genoeg vir mnr. Mike Scott nie. 'n Mengsel van avontuurlus, liefde vir Afrika se ongetemde wildernis en 'n strewe om sy boerderyrisiko's te verminder, het hom en 'n vennoot, mnr. Piet Uys van Carolina, Mosambiek laat invaar op soek na grond waar hulle die boerdery kon uitbrei.

Hulle het pas hul eerste mango-oes daar gaan insamel en dit na Suid-Afrika uitgevoer - waarskynlik die begin van 'n suksesvolle boerdery wat uiteindelik sal help om hierdie mooi land se wankelrige landboubedryf weer 'n hupstoot te gee.

Drie dekades gelede was Mosambiek se landbou nog relatief vooruitstrewend, maar toe het 'n revolusie 'n einde aan die Portugese heerskappy gemaak en die land in 'n burgeroorlog gedompel. Daar is reeds vir jare weer vrede, maar dié land tel steeds onder die armste lande ter wêreld en die inwoners het elke bietjie hulp nodig - uit watter oord ook al - om hulle uit die wurggreep van armoede te red.

Mnr. Scott boer met mango's en sitrus op die plaas Bergendal by Hoedspruit. Voordat hy begin boer het, het hy eers by die Hans Merensky-stigting op Tzaneen gewerk, waar hy van boord- en pakhuisbestuurder tot tegniese bestuurder van dié vrugte-uitvoermaatskappy gevorder het.

Hy het gedurende hierdie tyd ook deeltyds met vrugte geboer. Omdat daar meer water vir besproeiing uit die Blydepoortdam beskikbaar is, het hy sy deeltydse boerdery later na Hoedspruit verskuif, waar hy in 1989 'n plaas gekoop en later 'n tweede plaas aangeskaf het. Die werk by die maatskappy was vir hom 'n baie goeie leerskool en in 1995 het hy heeltyds gaan boer.

Van meet af aan wou hy sy boerdery verder uitbrei en het hy na Mosambiek begin kyk. "Vennootskappe kom in hierdie opsig nuttig te pas, want dan het 'n mens meer geld vir uitbreidings." Daarom het hy 'n vennootskap met 'n universiteitsvriend, mnr. Piet Uys, aangegaan.

Hulle wou hul risiko's versprei deur die boerdery uit te brei na 'n land met meer water as Suid-Afrika, minder politieke inmenging en genoeg bemarkingsgeleenthede. Gevolglik het hulle Mosambiek begin verken.

In daardie jare was die burgeroorlog in Mosambiek tussen Frelimo en Renamo nog verwoed aan die gang. Dít het hulle nie afgeskrik nie en hulle het groot afstande afgelê om kruis en dwars na geskikte grond vir boerdery te soek. Die avontuur en uitdagings in Mosambiek het die twee manne ook gelok.

In die eerste plek moes die klimaat en grond geskik wees. Hulle het naby die hawestede Maputo en Beira na geskikte grond begin soek weens die noodsaaklikheid om produkte uit te voer. Veral Beira was baie aanloklik. Hoewel dié stad se hawe- en verkoelingsgeriewe baie verwaarloos was, het dit baie moontlikhede vir uitvoer ingehou.

Só 'n plaas moes ook naby 'n standhoudende rivier en aan goeie paaie geleë wees om die produkte by die hawe te besorg. Die tweemanskap het terselfdertyd ook die moontlikheid ondersoek om op groot skaal by wildboerdery betrokke te raak en die grond van hul keuse moes dus nie net vir vrugte onder besproeiing geskik wees nie, maar ook vir wildboerdery.

Uiteindelik het hulle op grond by Dombe in die provinsie Manica besluit. Dit is digby die belangrike teerpad tussen Maputo en die noorde geleë, en - soos die kraai vlieg - net 120 km wes van Beira. Die paaie was toe nog so te sê onbegaanbaar, maar hulle het geglo dit is só 'n belangrike lewensaar vir Mosambiek dat dit later verbeter sou word, wat toe inderwaarheid gebeur het. Dié betrokke teerpad maak dit vandag moontlik om landbouprodukte maklik oor Maputo na Suid-Afrika te vervoer, terwyl vrugte vanaf Beira na die Midde-Ooste uitgevoer kan word, wat net tien dae per skip daarvandaan is.

Twee riviere vloei oor die plaas, naamlik die Lucite, 'n groot, standhoudende rivier, en die Buzi, wat ál die water vir besproeiing verskaf waarvan 'n boer kan droom.

Dit het egter sewe jaar geduur voordat hulle uiteindelik ingevolge die land se huurpagstelsel die reg gekry het om vir 49 jaar daar te boer. Die groot struikelblok was die burokrasie, wat 'n aansoek om grond baie frustrerend gemaak het. By die plekke waar hulle aansoek gedoen het, het die mense gewoonlik nie eens geweet wat om met die aansoek te maak nie.

Baie mense probeer in só 'n situasie om kortpaaie met omkoopgeld te volg, maar mnre. Scott en Uys het van meet af aan besluit om niemand om te koop nie. Dít was later hul behoud en die rede waarom hulle uiteindelik suksesvol met hul aansoek om grond was.

In 1992 het hulle eindelik by die minister van landbou in Maputo uitgekom. Hulle kon hom net vir tien minute spreek, maar uiteindelik het hy hulle 'n uur lank vertel hoe sleg Suid-Afrikaanse boere is. Dit het geblyk dat baie boere al daar gaan boer het, maar die land net misbruik het. Dit het ander boere se planne in die wiele gery.

Die minister het egter na mnre. Scott en Uys se planne geluister en voorgestel hulle huur eers grond, sodat hulle aan hom kon bewys waartoe hulle in staat is. Hulle het toe noord van die Zambezirivier grond gehuur. Om te kon ploeg en plant, moes hulle 20 ha grond ontbos. Toe kon hulle mielies plant, waaraan die land 'n groot tekort gehad het, en hulle het proefaanplantings met sojabone en keker-ertjies gedoen. Veral die mielie-oes was baie suksesvol en hulle het dit aan die VN verkoop wat dit onder die Mosambiekers versprei het.

Dié plek was egter baie ver van Hoedspruit en dit het dae gekos om daar te kom. Hul volgende projek was gevolglik verder suid; 'n saagmeule 50 km suid van Dombe, waar hulle bome afgekap, in planke gesaag en na Suid-Afrika uitgevoer het.

In daardie stadium het die twee Suid-Afrikaners grond geïdentifiseer wat geskik is vir mango's, sitrus en wild. Dit was egter toe 'n sensitiewe Renamo-gebied (Frelimo was die bewindhebbende party) en dit was haas onmoontlik om by die regte plek met 'n aansoek om grond te begin. Mnre. Scott en Uys het eers daar rondgery, maar was uiteindelik genoodsaak om hul rugsakke te pak en die Renamogebied te voet binne te gaan.

Ná sowat 50 km is hulle deur Renamosoldate gevange geneem en na 'n kamp gebring. Daar het hulle gou agtergekom die soldate is ook keelvol vir die oorlog en hulle het baie frustrasies. Die twee blankes het die soldate te midde van groot belangstelling vertel waarom hulle daar was, naamlik om die regte mense te soek by wie hulle kon aansoek doen om grond. Hulle is die volgende dag vrygelaat.

Later is albei weer deur Frelimo-vegters gevange geneem, wat hulle as pionne wou gebruik om die regering te dwing om sy beloftes teenoor die soldate na te kom. Hulle is weer eens gou vrygelaat.

Drie maande later is mnr. Uys nogeens naby die saagmeule deur Renamo gevang. Hierdie keer het hulle hom vir vier dae aangehou. Van die ander gevangenes het erg teen Renamo uitgevaar. Mnr. Uys het hulle ingelig dat die Mosambiekse regering eintlik te blameer is omdat hy nie sy beloftes teenoor die vryheidsvegters nakom nie. Een van die wagte het dit gehoor en vir die Renamo-bevelvoerder gaan sê. Dié het mnr. Uys ontbied en sy storie aangehoor. Later het daar selfs 'n generaal aangekom om na mnr. Uys te luister oor die probleme wat hy en mnr. Scott het om grond vir boerdery te bekom. Hy is kort daarna vrygelaat.

Op 'n dag in 1993 het die twee Suid-Afrikaners 'n boodskap gekry dat hulle op 'n sekere dag presies om tienuur die oggend by 'n bepaalde ruitverwysing moes land. Hulle is met 'n private vliegtuig daarheen. Toe hulle land, het soldate hulle na Renamo se hoofkwartier gebring. Daar het hulle die sekretaris-generaal ontmoet, wat vir hulle 'n bekendstellingsbrief gegee het om hulle met hul grondaansoek te help.

Sake verloop toe beter, behalwe dat hulle toe agterkom dat die grond wat hulle wil hê, in twee provinsies, naamlik Manica en Sofala, geleë is, wat die proses wéér vertraag het. Uiteindelik het dit vyf jaar geduur voordat hulle 'n tydelike lisensie ontvang het. Dit het hulle twee jaar toegelaat om te bewys dat hulle werklik daar wil boer voordat hulle ingevolge die land se huurpagstelsel goedkeuring gekry het om vir die volgende 49 jaar daar te mag boer.

Dit was egter nog nie die einde van die probleme nie, want die dag toe hulle op die plaas aankom, was daar 'n Italiaanssprekende Mosambieker wat gesê het die plaas behoort aan hóm. Die regering het 'n komitee van ondersoek aangestel. Dit het twee jaar geduur, maar uiteindelik kom hulle toe agter 'n hoë weermagoffisier is sy vennoot en dat omkoopgeld daarby betrokke was. Dít het die deurslag gegee en die regering het die plaas vir die Suid-Afrikaners aangebied. In 1999 kon die twee pioniers uiteindelik begin boer.

Uit ál hul wedervaringe gee mnr. Scott vir ander Suid-Afrikaners wat hul voorbeeld wil volg en in Mosambiek wil gaan boer, twee baie waardevolle wenke. Begin eerstens heel onder met 'n grondaansoek, naamlik by die hoofman. Kry eers sy toestemming en samewerking, en volg daarna die hiërargie tot heel bo waar die uiteindelike aansoek ingedien word.

Die tweede wenk is: Moenie mense omkoop nie. Baie Suid-Afrikaners meen 'n mens kom nêrens as jy nie omkoopgeld betaal nie. Dit is inderdaad so dat baie Afrikane "geskenke" vir gunste vra, maar dit is nie die moeite werd om iemand om te koop nie. Dít het mnre. Scott en Uys deeglik agtergekom uit die Italianer se duur flater. "Dit wys ook Mosambiek het 'n goeie regstelsel," sê mnr. Scott.

Hulle het dadelik begin om die grond te ontbos. Eers het hulle net mangoboompies in die kwekery gekweek. Toe die boompies vier jaar gelede groot genoeg was, het hulle bome op 36 ha gevestig. Die mango's is eers sonder besproeiing verbou, hoewel hulle met die aanplanting die riglyne vir besproeiing gevolg het. Die bome het gevolglik nie so vinnig gegroei as wat hulle wou hê nie. Toe hulle later genoeg geld gehad het, het hulle drupbesproeiing uit die rivier aangelê.

Die eerste volwaardige oes is met Landbouweekblad se besoek aan die plaas ingesamel - sowat 8 t/ha, wat in die omstandighede goed is. Die gehalte en grootte was goed. Die vorige seisoen se klein oes was nie die moeite werd om te bemark nie en mnr. Scott het die vrugte aan die plaaslike inwoners geskenk.

'n Groot voordeel is dat hulle die bome nog nooit bemes het nie - gevolglik is die produksiekoste laag. Die grond is verweerde basalt (lawagrond) wat baie voedingstowwe bevat. Dit het ook 'n hoë klei-inhoud, wat baie water absorbeer. Die bome het tot dusver nog nie gebreke nie, maar sal later wel bemes moet word.

Waardetoevoeging sal vorentoe 'n groot rol speel om die boerdery verder stukrag te gee. Daarom het hulle 'n projek saam met 'n internasionale voedselverwerkingsmaatskappy, Geest, aangepak om die mangobome te manipuleer sodat dit vroeër geoes kan word. Mnr. Willem Landman van dié maatskappy is in beheer van die projek. Vrugte wat eerste op die mark is, haal immers die hoogste pryse.

Hulle beoog ook om atjar te vervaardig - 'n bykos wat van groen mango's gemaak word.

Mnre. Scott en Uys glo aan goeie betrekkinge met die plaaslike owerhede en stamkapteins. Omdat daar verskillende stamme in die omgewing is, het hulle elke stamhoof gevra om 'n sekere getal werkers beskikbaar te stel om met die boerdery te help en die eerste 100 ha grond te ontbos. Sodoende het ál die stamme voordeel getrek uit die lone.

Om onmin te vermy, het hy die ligging van die grond ook só gekies dat so min moontlik van die plaaslike inwoners verskuif hoef te word.

'n Beesboerdery en slaghuis word ook beoog om die plaas meer lewensvatbaar te maak.

Behalwe dat hulle die mangoboerdery wil uitbrei en sitrus wil plant, is die plan op die duur om die toerismebedryf op groot skaal te betree. Die hele stuk grond wat hulle bekom het, beslaan sowat 6 000 ha, waarop hulle 'n wildboerdery wil vestig met die oog op toerisme en trofeejag. Hulle beoog voorts ook riviervaarte in die stroomversnellings. Hulle het reeds opnames laat doen om vas te stel hoeveel soorte wild daar voorkom, asook 'n ekologiese opname van die rivier om die vissoorte te bepaal. Voorwaar pioniers in Mosambiek, hierdie twee boere, met groot planne en baie waagmoed. 14 Februarie 2003

Boer vooruit met ’n Landbou.com-intekening
Teken in op Landbou.com teen R149 per maand en kry toegang tot gehalte-joernalistiek, alle landboutydskrifte, Landbouweekliks-episodes, boeke en baie meer.
Teken in
Smalls

Besoek ons nuwe webwerf vir geklassifiseerde advertensies en plaas jou advertensie in LBW én aanlyn. Vind ook vinnig en maklik die produk waarna jy soek!

Sien meer
Rand - Dollar
17.47
-2.2%
Rand - Pond
21.05
+0.1%
Rand - Euro
18.91
-0.2%
Rand - Aus dollar
12.09
+0.1%
Rand - Jen
0.13
+0.1%
Platinum
974.02
0.0%
Palladium
1,623.95
0.0%
Goud
1,865.16
0.0%
Silwer
22.35
0.0%
Brent-ruolie
79.94
-2.8%
Top-40
74,082
+0.6%
Alle aandele
80,241
+0.6%
Hulpbronne 10
75,186
+0.7%
Industriële 25
103,461
+0.8%
Finansiële 15
16,550
0.0%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Besoek ons winkel!

Besoek die LBW-winkel en koop verskillende produkte soos boeke, tydskrifte, klere en meer.

Besoek LBW-winkel
Opsitkers
🎶 All we need is love
Onafhanklik, goeie waardes, sin vir humor, diere liefhebber, sagte hart. Geniet Park runs op Saterdae, beoefen skyf skiet as ook Karate. Mal oor musiek en geniet n rit op my...
Aktiewe leefstyl en rustige persoonlikheid
Posiewe en vriendelike persoonlikheid Geniet mense en is baie sosiaal Diere liefhebber Aktiewe leefstyl, gym tenminste 4 tot 5 keer n week Baie gelukkig in my werk Geniet die...
Vind jou perfekte maat nou!
Ek is 'n:
Op soek na:
Ouderdomsgroep: tot