
Wat vooruitsigte vir 2014 betref, word voorspel dat die Suid-Afrikaanse prys vir olyfolie teen die einde van die eerste termyn onder druk sal kom. Dit is omdat produksie in Europa herstel en daar meer olyfolie na Suid-Afrika uitgevoer word.
Mnr. Nick Wilkinson, voorsitter van SA Olive, voorspel dat pryse van tafel- en olie-olywe in die volgende 12 maande “maar plat sal bly”. Volgens Wilkinson is een van die bedryf se grootste probleme om mededingend te bly teen hoogs gesubsidieerde Europese produkte. Die bedryf het al op drie verskillende geleenthede aansoek om ’n tarief gedoen.
“Dit lyk asof die Regering die bedryf se potensiaal om werk te skep, raaksien, maar aan die ander kant doen hy niks om die speelveld gelyk te maak sodat Suid-Afrikaanse olyfboere mededingender kan wees nie,” sê hy.
Ingevoerde gehalte soms swak
Nog ’n groot probleem is dat talle van die ingevoerde produkte swak is, maar steeds as ekstrasuiwer-olyfolie verkoop word. Van die produkte is ook gegeur of vermeng en bevat nie dieselfde gesondheidsvoordele van ekstrasuiwer-olyfolie nie. Dit blyk nie dat ons verbruikerswet in hierdie geval die verbruikers beskerm nie, sê Wilkinson.
Die bedryf wil statutêre heffings, wat verlede jaar ingestel is, gebruik vir ’n generiese bemarkingsveldtog wat sal poog om verbruikers op te voed sodat hulle tussen goeie en slegte olyfolie kan onderskei.
Hy wys daarop dat die meeste produsente ingestem het tot die statutêre heffings, maar dit is moeilik om hierdie heffings van invoerders in te samel. Die probleem is dat daar nie ’n invoerpermit nodig is om olyfolie in te voer nie, wat dit moeilik maak om boek te hou van invoer en om invoerders op te spoor.
SA Olive soek saam met die Regering na ’n oplossing. Hoewel dit moeilik is om te voorspel hoe die onlangse weer die produksie van olywe en olyfolie sal beïnvloed, lyk dit asof die olyfoes tot 10% groter is as verlede jaar se oes van sowat 1,8 miljoen kg vir tafelolywe en 120 miljoen kg vir olie-olywe.