
Een van Suid-Afrika se bekende wynkelders het met trots sy betrokkenheid by Prins Harry van Brittanje se Sentebale-liefdadigheidsorganisasie aangekondig.
Die organisasie stel eersdaags in Johannesburg ’n grootskaalse fondsinsamelingsprojek bekend, en die Jordan-wynlandgoed se wyne sal op die glansgeleentheid gebruik word.
Die geld wat ingesamel word, sal luidens ’n verklaring vir die oprigting van die eerste Mamohato-sentrum vir kinders en jeugdiges gebruik word. Die organisasie is in 2006 gestig ter nagedagtenis aan Prinses Diana, Prinse William en Harry se ma, wat ná ’n ernstige motorongeluk gesterf het.
Sentebale beteken “vergeet my nie” in Suid-Sotho, en die organisasie fokus op die behoeftes van kinders en jeugdiges in Lesotho wat deur MIV/vigs geraak word.
Vier keer meer kinders
Die Mamohato-sentrum sal die organisasie in staat stel om vier keer meer kinders te bereik as wat tans bedien kan word. Sielkundige versorging en mentorskap is van die dienste by die sentrum wat vir kinders en jeugdiges beskikbaar sal wees.
Die sentrum wil hom daarop toespits om die stigma rondom die siekte te beperk en om selfvertroue en onafhanklikheid onder kinders en jeugdiges te kweek. Die perseel is heilige grond van die Thaba-Bosiu-stam in Lesotho, wat beskryf word as die geboorteplek van die nasie. Dit na Lesotho se Prins Seeiso se ma, Koningin Mamohato Bereng Seeiso genoem. Meer inligting oor die sentrum is by www.sentebale.org beskikbaar.
Jordan het al verskeie pryse verower, waarvan Veritas se eerbewys aan die beste private wynlandgoed in 2012 een is.