Daarby het Suid-Afrika vir die eerste keer 'n wyn onder die top-vyf in Brittanje: Die Kumala-reeks van Western Wines in die Stellenbosch-gebied.
Me. Sue Birch, die hoofbestuurder van Wines Of South
Africa
, die wynbedryf se internasionale bemarkingsarm, sê die hoeveelheid Suid-Afrikaanse wyn wat in die Britse kleinhandel verkoop is, het met 26 % teenoor 2001 se volume gestyg. Australië se afset het met 23 % gestyg en die hele Britse kleinhandel-wynafset het met 6 % gestyg.
Gemeet aan geldwaarde is Brittanje op drie na die wêreld se grootste wynverbruiker en na verwagting sal die vinnige groei van hierdie mark voortgaan. Meer as die helfte van Suid-Afrika se uitvoer van gebottelde wyn gaan hierheen.
Me. Birch sê daar is nie kommer dat dié mark oorversadig kan word nie. Wines Of South Africa glo dat Suid-Afrika nie net die volume-aandeel in Brittanje sal verhoog nie, maar ook die aandeel gemeet aan geldwaarde. Dit is tans 9,1 %. Wynboere word aangemoedig om hulle toe te spits op wyn wat 5 pond en meer per bottel kos.
Sommige Suid-Afrikaanse wynmakers, waaronder Rustenberg en Graham Beck, behaal al meer as 14 pond per bottel.
Ook die Nederlandse mark het in die onlangse verlede sterk gegroei. Die verkope van Suid-Afrikaanse gebottelde wyn daar het met 22 % teenoor 2001 verbeter. In Duitsland was die groei 16 %. Uitvoer na Denemarke en Finland het ook sterk gegroei.
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf se vermoë om die uitvoermarkte te bedien, word nou verbeter. Om die effek van die versterking van die rand te hanteer, asook die groeiende konsolidasie van supermarkte op multinasionale grondslag, konsentreer produsente nou op handelsnaam-vestiging eerder as op afslagpryse om hul markaandeel te vergroot.
Produsente gee ook ál meer aandag aan die premie-segment van die mark, waar die land van herkoms en duidelike streekkenmerke die kopers beïnvloed en marges meer aanpasbaar is.
28 Februarie 2003