
’n Vyfde van die wyne wat tans in Nigerië verkoop word, kom uit Suid-Afrika danksy die samewerking van individuele wynmakers. Dié land se wynmark se jaarlikse omset word op sowat $300 miljoen geskat. Die eerste Groot Proe-geleentheid is vanweë dié rede vroeër die maand in Lagos aangebied.
Die uitstalling is deur Wines of South Africa (Wosa) en die Suid-Afrikaanse Hoëkommissaris aangebied. Luidens ’n verklaring het dit deel gevorm van die Suid-Afrika-Nigerië-week wat jaarliks gehou word. Dit is geskoei op soortgelyke wynuitstallings wat al in Angola plaasgevind het, en later die jaar ook in Uganda beoog word.
Besoekers se reaksie was so bemoedigend dat reëlings reeds onderweg is om volgende jaar weer ’n Groot Proe aan te bied. Volgens Wosa word Nigerië beskou as een van die ontluikende markte wat die vinnigste groei.
Twee dae
Die geleentheid is oor twee dae by die Federal Palace-hotel op Victoria-eiland gehou. Op die eerste dag is handelaars en invoerders ontvang, terwyl geleentheid op die tweede dag vir die publiek oop was. Die hoofrede vir die uitstalling was om plaaslike wynboere toegang tot invoerders en lede van dié land se gasvryheidsbedryf te bied.
Mnr. Thandi Mgxwati, politieke kanselier by die Suid-Afrikaanse Hoëkomissariaat in Lagos, sê die geleentheid was baie geslaag en het die fokus laat val op hoe uiteenlopend en uitnemend Suid-Afrika se wynbedryf is. “Daar is al meer gesofistikeerde belangstelling in luukse-goedere in dié mark. Dit het ’n wonderlike geleentheid geskep om handelsbetrekkinge tussen ons twee lande te verstewig.”
Mnr. Matome Mbatha, bemarkingsbestuurder vir Afrika en Amerika by WOSA, sê hulle is baie opgewonde oor die terugvoering wat hulle oor die geleentheid ontvang het. “Die handel, media en verbruikers het só goed gereageer op die wyn wat ons aangebied het, dat ons voornemens is om nog etlike sulke geleenthede te reël om die profiel van Suid-Afrika as ’n produsent van puik premiewyne te verhoog.”
Die tweede Groot Proe word vir Julie aanstaande jaar beplan, en sal deel vorm van die Internasionale Nelson Mandeladag-vieringe.