Die Karoo met sy min water en yskoue winter is die ideale streek vir saffraan, en ’n boerdery-herlewing in die streek is nie vergesog nie, sê mnr. Eric Brown van Elandsfontein, suidwes van Laingsburg. In 2019 het Brown sy vorige plaas en boerdery verloor.
Twee jaar later is hy een van die Wes-Kaap se grootste blomkool-, broccoli- en spinasieprodusente op huurgrond, én een van die pionierboere met saffraan in Suid-Afrika. Nadat misoeste hom bloots gery het, het hy navorsing begin doen oor geskikte gewasse vir die Karoo.
Sy pad het gekruis met dié van mnr. Bennie Engelbrecht van Williston, wat saffraan in 2017-’18 na Suid-Afrika gebring het. In 2019 het Brown sy eerste saffraanbolle teen R3/bol gekoop.