
’n Wynlandgoed wat in die Hemel-en-Aarde-vallei by Hermanus geleë is, het vanjaar vier verskillende pryse by die South African Wine Index (SAWi) se toekenningsgeleentheid verower. Die Hamilton Russell-wynlandgoed is bekroon as 2012 se SAWi Wynkelder van die Jaar.
Mnr. Hannes Storm, dié kelder se wynmaker, is ook aangewys as SAWi se Wynmaker van die Jaar vir 2012, terwyl mnr. Johan Montgomery, die kelder se wingerdboukundige, as vanjaar se Wingerboukundige van die Jaar vereer is. ’n Vierde eerbewys het aan mnr. Colin Jonkers, voorman, en sy span gegaan toe die Hamilton Russell Chardonnay as SAWi se Witwyn van die Jaar aangewys is.
Top-eerbewyse
Die kompetisie het drie top-eerbewyse, die Platinum-, ‘‘Grand Gold’’- en Topkelder-pryse. Die KWV het voorgeloop en sewe pryse verower, terwyl die Spier- en Hamilton Russell-wynlandgoed elk vyf gewen het. Die Bouchard Finlayson-, Cederberg- en Rijks-wynlandgoed het elk met vier pryse weggestap.
Kanonkop, Lomond, Ken Forrester, Klein Constantia, Fleur du Cap en Saronsberg is van die ander wynlandgoedere wat meertallige pryse gewen het.
Op die lys van Topkelderpryse het die name van die kelders Rustenburg, La Motte, De Toren, De Trafford, Cape Point Vineyards, Eagles Nest, Ken Forrester, Paul Cluver, Uva Mira, Oak Valley en Warwick verskyn.
Rooiwyne
Die Rijks Private Kelder het met sy Pinotage vir die derde agtereenvolgende jaar SAWi se Rooiwyn van die Jaar opgelewer. Met slegs ’n breukdeel van ’n punt, was Kanonkop se Paul Sauer in die tweede plek.
SAWi se Platinum-prys word toegeken aan wyne wat 95 punte of meer uit ’n moontlike 100 punte behaal. Die ‘‘Grand Gold’’ gaan aan wyne wat 94 of 93 punte behaal het, terwyl die ‘‘Gold’’ aan wyne wat tussen 92 en 90 punte uit 100 toegeken word.