In Suid-Afrika kan die dagtemperature teen 2050 op plekke in die suidwestelike dele, waar die meeste van die land se wingerde geleë is, tot 3 °C warmer wees as tans. Dit kan ook 25% droër raak in dié dele.
Me. Rosa Kruger, wingerdboukundige, het tydens ’n werksessie deur die Ou Wingerdprojek op Stellenbosch gesê sy vrees vooruitsigte soos droër April- en Meimaande, maar natter Septembers, Oktobers en Novembers.
“Dit beteken jy gaan minder waterreserwes kan opgaar danksy reën ná die oes en daar sal meer siektedruk in die lente wees.” Boere wat wingerde vestig met die doel om oud te raak, moet die klimaat van die toekoms in gedagte hou.