
Wynboere kom in rat om vanjaar ’n ietwat kleiner oes as verlede jaar te pars, maar steeds meer as die vyfjaargemiddelde.
Mnr. Conrad Schutte, hoof van Vinpro se konsultasiedienste, het vandag tydens dié organisasie se inligtingsdag gesê die oes word kleiner geskat in die meeste wynverbouingstreke, buiten Stellenbosch, die Kaapse Suidkus en die Klein-Karoo.
Parstyd sal binne enkele weke in die wynland aanbreek.
Een van die vernaamste redes vir die kleiner verwagte oes is wingerde wat in areas soos die Olifantsrivier- en Oranjerivierstreke moes plek maak vir winsgewender gewasse.
“Altesaam 245 ha wingerd is in die Olifantsriviervallei verwyder.”
Swamsiektes soos donsskimmel en poeieragtige meeldou eis ook vanjaar hul tol en gaan ’n invloed op die oesgrootte hê. Streke soos die Oranjerivier, Olifantsrivier, Paarl en die Kaapse Suidkus loop veral deur.
“Ons sien beslis meer poeieragtige meeldou in die wingerd as in ander seisoene,” het Schutte gesê en boere gemaan om voorsorgmaatreëls te tref wanneer hulle oes sodat dit nie die wyngehalte kniehalter nie.
“Gewoonlik as jy 5% poeieragtige meeldou-infeksies in die wingerd verwag, is dit 10% teen die tyd dat die druiwe by die kelder aankom.”
Plek-plek is sonbrandskade ook waargeneem.
“Hoewel ons vanjaar minder temperatuur-uitskieters gesien het, was die wingerde nie juis aangepas hiervoor nie vanweë die koeler rypwordingseisoen. Daar is dus ’n bietjie sonbrandskade, byvoorbeeld in Stellenbosch en die droëlandgebiede in die Swartland.”
Andersins was dit ’n goeie seisoen vir wynboere.
“Die wintertoestande was meesal goed, met veral Robertson en die Swartland wat die meeste koue-eenhede in sewe jaar kom akkumuleer. Die reënval was ook hoër, behalwe in Elgin en die Olifantsrivierstreek,” het Schutte gesê.
Bottyd het in die lente sowat tien tot veertien dae later aangebreek, maar was redelik eweredig. Deurslaan (verkleuring) is ook later vanjaar, wat moontlik kan dui op latere rypwording en ’n latere oesdatum.