Na-oes-hantering is algemene kennis, meen 'n kenner op die gebied. Maar waarom skeep boere steeds dié eenvoudige praktyke af ten koste van hul winsmarges, gehalte en natuurlike hulpbronne?
Menige boer moes al gelate aanvaar hoe 'n kettinggroep sy groente terugstuur weens roesvlekke, verbruining of selfs verharding alles kwale wat die groente nie gehad het toe dit die plaas verlaat nie.
Net so ken verbruikers die vieserige gevoel wanneer 'n geel appel melerig en sonder smaak is 'n produk wat kort tevore op die winkelrak nog smaaklik en sappig vertoon het.
Navorsing toon dat meer as 40 % van alle vars produkte weens verkeerde opberging- en hanteringsmetodes verlore gaan. Dit plaas natuurlike hulpbronne, winsmarges en gehalte onder druk.
'n Geesdriftige hortoloog aan die Universiteit van Stellenbosch, me. Elke Crouch, het op 'n groente-inligtingsdag van Hygrotech aan boere en kleinhandelaars verduidelik dat behoorlike na-oesbeheer dié en ander kwale kan voorkom en boonop tot voedingswaarde kan bydra.
"'n Produk wat reg gehanteer is, het 'n goeie smaak en geur en dit hou lank," sê sy. "Die rakleeftyd en voedingswaarde is nou gekoppel met mekaar."
Verbruikers is gewoonlik die eerstes om koueskade, roesvlekke en uitdroging raak te sien, aangesien dit soms 'n paar dae tot weke duur om in te tree.
"Boere bestee baie geld om vrugte en groente van net die beste gehalte te kweek. As die na-oes-hantering daarvan afgeskeep word, veroorsaak dit onnodige finansiële verliese en dit op geld wat jy reeds bestee het. Die boer behoort 'n premie te kry vir 'n produk van 'n goeie gehalte."
Mnr. Jaco Vermeulen, pakhuisbestuurder op die Zetler-plase, buite Stellenbosch, sê dié boerdery verkoel al jare lank sy suikermielies met yswater voor dit in die koelkamer opgeberg word.
Benewens die langer rakleeftyd, voorkom dit ook vogverlies en ontwatering.
Die voorverkoeling moet die mielies wat dikwels teen 36 ºC by die pakhuis aankom so vinnig moontlik tot 0 ºC verkoel. Die stelsel, waar yswater uit 'n ondergrondse ysbad (met ongeveer 30 000 liter water in) met nywerheidstortkoppe oor die mielies gespuit word, verkoel die groente binne anderhalfuur. In 'n gewone koelkamer sal dit meer as 'n week duur om die temperatuur tot in die kern van die mielie te laat daal.
"Die belangrikste voordeel is dat dit die koueketting laag hou en die rakleeftyd hoog," sê Vermeulen.
Crouch stem saam dat, benewens die produsente-premie, die verbruiker en verspreider ook baat vind by na-oeshantering.
"Dit is vir supermarkte belangrik om goeie gehalte te verkoop en die produk solank moontlik te kan bemark. Vir die verbruiker is die beste gehalte wat gesondheid, smaak en voorkoms betref, belangrik asook om 'n produk met 'n lang rakleeftyd te kry," sê Crouch.
Sy het tydens studente-vakansiewerk op 'n plaas in Hoedspruit gesien watter groot verskil goeie na-oeshantering aan produkte kan maak. Sedertdien het sy haar toegespits op die voorkoming van probleme wat hierdeur veroorsaak word.
Danksy na-oestegnologie kan vars produkte ook met skeepsvrag na ander wêrelddele uitgevoer word om op die internasionale mark mee te ding.
Die een gemeenskaplike kenmerk van alle vars plantprodukte is dat hulle lewend is en gewoonlik van die moederplant afgesny is. Die produk moet dus nou op sy eie voortbestaan en is van sy reserwestowwe afhanklik. Hierdie produkte het sekere behoeftes om te kan lewe. Die na-oesbehoeftes het te doen met temperatuur, humiditeit, atmosferiese samestelling en die hantering van die groente.
Hoewel na-oeshantering nie vuurpylwetenskap is nie, skeep baie boere steeds dié eenvoudige praktyke af. In die verlede was dit makliker om produkte te verkoop of markte daarvoor te vind, daarom het boere en supermarkte dikwels na-oeshantering afgeskeep, hoewel hulle weet wat om te doen.
"Die grootste behoefte aan na-oeshantering is op die plaaslike mark. Selfs kettingwinkels moet soms herinner en opgelei word. 'n Mens hoef nie baie geld te bestee nie. Produkhantering beteken in baie gevalle om versigtiger te werk en produkte wat nie saam opgeberg moet word nie, van mekaar weg te hou."
Een maklike plan is om 'n nat kombers oor kratte te sit en dit so vinnig moontlik na die pakhuis te vervoer. Die kombers verlaag die groente en vrugte se temperatuur en voorkom vogverlies.
"Geskikte verpakking kos ook ekstra geld, maar in die meeste gevalle vergoed die langer rakleeftyd daarvoor," sê Crouch. Die regte verpakkingsmateriaal voorkom vogverlies en wysig die atmosfeer om kleur, geur en gehalte te behou.
Crouch meen die premie wat boere uit gehaltegroente kry, vergoed vir die geld wat na-oeshantering vereis.
"Ek dink die plaaslike verbruiker wil deesdae graag 'n produk van gehalte hê. Mense reis en kom agter hoe die gehalte oorsee daar uitsien. Die verskeidenheid kettingwinkels maak die verbruiker ook kieskeuriger. Die verbruiker betaal dus eerder 'n bietjie duurder vir 'n produk van gehalte as wat hy 'n produk koop wat te vinnig oud raak, lelik lyk of nie lekker smaak nie.
"Boere se winsmarges raak al hoe kleiner. Daar is dus nie plek vir vermorsing nie en die behoud van 'n produk se leeftyd is belangriker as in die verlede."
Faktore om in ag te neem by na-oeshantering is respirasie-tempo, etileenproduksie, uitdroging, verrotting en verenigbaarheid (sekere groente kan nie saam op die rak uitgestal of in dieselfde pakkamer opgeberg word nie).
Crouch sê die mees basiese beginsel van na-oeshantering is om die gewas se respirasietempo te verlaag. Dit kan gedoen word deur verkoeling, voorkoming van vogverlies en etileen-beheer.
Respirasie is die omgekeerde van fotosintese. Dit is die tempo waarteen die plant koolhidrate verbrand om hom van energie te voorsien. Hoe vinniger respirasie plaasvind, hoe gouer verouder die groente. Neute en dadels se respirasietempo is baie laag, daarom kan dit vir tot 12 maande opgeberg word. Aspersies, ertjies en sampioene het 'n baie hoë respirasietempo daarom is hul raklewe net sewe dae.
In die na-oes-omgewing word respirasie deur temperatuur en die atmosferiese samestelling beïnvloed.
Die groente se ontwikkelingstadium en funksie moet ook in ag geneem word. Groente, soos broccoli (wat 'n voortplantingsfunksie het), se respirasietempo is hoër as dié wat 'n opbergfunksie het, soos aartappels. Om dié rede hou aartappels dus ook langer op die rak.
"In die na-oes-omgewing kan boere produkwaarde of gehalte behou deur die regte toestande te handhaaf en daardeur hul winsmarge te bevoordeel," meen Crouch.
Hoe warmer die pakhuis is, hoe hoër is die meeste groente se respirasietempo ook. Dit is dus belangrik om die pakhuis koel te hou. Nie té koud nie, want sommige groente is kouegevoelig. Sulke groente, soos tamaties, basilikum en eiervrug, kan koueskade opdoen en uiteindelik nie vir verkope geskik wees nie.
"Die meeste supermarkte belê in die verkoeling van suiwelprodukte, terwyl sommige hoogs bederfbare vars produkte sonder verkoeling vertoon word. Dié produkte se randwaarde per kilogram is dikwels ook veel hoër as die suiwelprodukte. Die behoud van ons vars produkte is dus die verantwoordelikheid van almal in die hanteringsketting," sê Crouch.
"Boere en supermarkte moet weet watter maatreëls hul produkte die beste laat hou. Sommige maatreëls kos geen geld nie, maar net gedagteverskuiwing," sê sy.
"Die plaaslike mark moet hieraan begin aandag skenk. 'n Basiese gedagteverskuiwing is dat almal kan baat vind by die regte hantering van produkte. Meer as 40 % van alle produkte gaan verlore weens verkeerde opberging en hantering."
Sy meen dit hoef nie so te wees nie. "Ons kan 'n goeie vars produk aan ons verbruikers bemark deur net 'n bietjie kennis oor produkte se na-oeslewe in te win en die hanteringsketting beter te bestuur."
Wenke om kwale te voorkom
Verskeie kwale by vars produkte word deur die verkeerde na-oes-hantering veroorsaak. Vars produkte is van die moederplant afgesny en moet verder op reserwebronne staat maak om te oorleef. Die regte maatreëls kan produkte se rakleeftyd en gehalte dramaties verbeter.
Die volgende afwykings kan deur goeie na-oesbeheer voorkom word:
Landbouweekblad, 30 Maart 2007