
Die Suider-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV) werk saam met uitvoerders, die regering en ander belanghebbendes in die sitruswaardeketting om die impak van die Russiese inval in Oekraïne op sitruskwekers en -uitvoerders te verminder.
Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die SKV, sê die gevolge van die inval sluit in die blokkering van vrugte wat vir Rusland bestem is, vertragings in vrugte wat op die mark kom, en verdere stygings in insetkoste vir produsente en uitvoerders.
“Rusland is ’n noemenswaardige invoerder van Suid-Afrikaanse sitrus, met 11,2 miljoen 15 kg-kartonhouers vrugte wat in 2021 daarheen uitgevoer is. Dit is 7% tot 10% van alle Suid-Afrikaanse sitrusuitvoer.”
Chadwick sê aangesien die meeste lande die afgelope paar weke nie vars produkte na Rusland gestuur het nie, is vroeë verskepings van suurlemoene wat vir die Russiese mark bestem was, beïnvloed. Sou hierdie situasie voortduur wanneer die uitvoerseisoen amptelik in April begin, sal ander sitrussoorte soos pomelo’s en sagtesitrus ook beïnvloed word.
As die bedryf dit regkry om vrugte na Rusland uit te voer, sal die depresiasie in die roebel ingevoerde vrugte duurder maak, terwyl betalings moeilik kan wees weens beperkings op geldvloei. Dit verhoog die risiko van uitvoer na Rusland.
Uit die aard van die saak plaas die inval ook ’n demper op uitvoer na Oekraïne waarheen uitvoerders ’n mate van momentum in regstreekse uitvoer begin bou het.
Turkye en van Suid-Afrika se voorste mededingers in Afrika, Marokko en Egipte, voer gewoonlik aansienlike hoeveelhede sitrus na Rusland uit. Chadwick sê die oorlog knou daardie lande se vermoë om die Russiese mark te voorsien en lei daartoe dat hul vrugte na ander markte gestuur word.
“Ons is bekommerd dat daar ’n ooraanbod op die markte en ’n opbou van voorraad kan ontstaan wat ’n impak op vroeëseisoenvrugte uit Suid-Afrika kan hê.”
MARKDIVERSIFIKASIE BELANGRIK
Die gebeure beklemtoon hoe belangrik dit is dat Suid-Afrikaanse sitrusuitvoerders toegang tot verskillende markte het om vrugte te verskuif wanneer nodig, sê Chadwick.
“Die SKV doen ’n beroep op die regering om sy onderhandelinge met handelsvennote te versterk om te verseker dat huidige marktoegang optimaal is, toegang te behou waar dit bedreig word en om toegang tot nuwe markte te verkry.”
Om alles te kroon, was daar die afgelope jaar ’n groot toename in insetkoste. Kunsmispryse het byna verdubbel en die pryse van landbouchemikalieë het met gemiddeld 50% gestyg.
Stygende brandstofpryse en verskepingskoste, wat verlede jaar met 30% tot 40% gestyg het, het produsente se winsmarges erg geknou. Die huidige situasie, met ’n skerp styging in die prys van ruolie, sal verskepingskoste verder verhoog.
HAWENS OORLAAI
Die belangrikste Europese hawens wat die Suid-Afrikaanse varsproduktebedryf gebruik, is erg oorlaai aangesien alle houers geskandeer moet word. Dit lei daartoe dat vars vrugte uit Suid-Afrika in sommige gevalle tot 90 dae in transito bly, iets wat gewoonlik ongeveer 24 dae duur.
Met 14% van die wêreldwye kunsmisuitvoer wat tans in Rusland vasgevang is, en die prys van olie en gas wat as gevolg van die oorlog aanhou styg, meen Chadwick dat verdere stygings in die pryse van kunsmis, brandstof en landbouchemikalieë verwag kan word. Dit sal verdere druk op produsente plaas.