
Scholtz het in ’n onderhoud met Fresh Plaza gesê Maputo is al die afgelope ses jaar geskik vir die laai van sitrus op vraghouerskepe en ook konvensionele skepe, maar dat daar eers in 2020 met erns begin is om die potensiaal van hierdie hawe te ontsluit om die druk op die Durban-hawe te verlig.
Dit is baie nader om sitrus wat in Suid-Afrika se noordoostelike produksiegebied geproduseer word, na Maputo te vervoer as Durban, maar produsente was onseker of skeepsvragmaatskappye Maputo by hul skedules sou insluit.
Daar was ook onsekerheid oor die Komatipoort-Ressano Garcia-grenspos, maar uitvoerders wat nou deur Maputo uitvoer, het aan Fresh Plaza gesê hulle is aangenaam verras deur die gemak waarmee hul vragte oor die grens gegaan het.
Met die ondersteuning van baie belanghebbendes het die MPFT daarin geslaag om ’n omvattende plan aanmekaar te sit. Die goedkeuring van ’n protokol vir die vervoer van los palette na Maputo, die laaiprotokol en die raad vir uitvoer van bederfbare produkte (PPECB) se goedkeuring vir die MPFT is van die faktore wat tot die sukses van die plan bygedra het, sê Scholtz.
Daar kan omtrent 300 vraghouers per week by die MPFT gelaai word en Scholtz het aan Fresh Plaza gesê die verwagting is dat minstens 100 vraghouers teen einde Mei na bestemmings soos Hongkong, Singapoer en Maleisië deur dié terminaal verskeep sal word. “Ons verwag om teen einde September sowat 2 000 vraghouers te kon verskeep.”