
Tussen 5% en 8% van die wyn met kurkproppe wat vir vanjaar se Ou Mutual Trofee-wynskou ingeskryf is, is teruggestuur weens probleme met die gehalte van die wyn. Mnr. Michael Fridjhon, voorsitter van die paneel van beoordelaars by die skou, skryf dit toe aan onderskeidelik bederf wat deur swak kurkproppe veroorsaak word en oksidasie.
Die soort probleme was egter aansienlik minder as in vorige jare, aldus hom. Tog het beoordelaars in totaal sowat 25% van die wyne wat beoordeel is, teruggestuur om doodseker te maak dat die gehalte reg was.
Beter maatreëls met kurkproppe nodig
Die beoordelaars was dit eens dat produsente beter maatreëls moet tref om probleme met kurkproppe te voorkom. “Die verbruiker kan gewoonlik nie soos ons beoordelaars ’n ander bottel oopmaak as ’n wyn vir hulle ‘af’ proe nie,” het me. Fongyee Walker, een van China se top wynopvoeders wat ook as een van die skou se beoordelaars opgetree het, gesê. Sy het bygevoeg dat wyne met skroefproppe oor die algemeen beter geskik is vir die warm klimaatstoestande in China.
Uit die inskrywings blyk dit dat skroefproppe oor die algemeen meer aanvaar word in die bedryf as in die verlede. Van die 1040 wyne wat ingeskryf is, het 285 skroefproppe gehad. Ongeveer 70% van al die Sauvignon blancs wat ingeskryf is, het skroefproppe gehad en sowat 10% van die rooiwyne.
Kompetisie straf
Fridjhon het gesê dat vanjaar ’n strawwe kompetisie is. Wyn wat in die verlede maklik ’n goue medalje sou kry, is eerder vanjaar met ’n hoë silwer bekroon. Die resultate weerspieël die goeie vaardighede in die bedryf. In vanjaar se kompetisie is ongeveer 23 trofeë, 14 goue, 121 silwer- en 169 bronsmedaljes toegeken. Die resultate moet nog geoudit word.
Die meeste medaljes per kategorie is aan Chenin blanc-wyne toegeken (3 goud, 10 silwer en 31 brons). Daar was 57 wyne in die kategorie ingeskryf. Fongyee was veral beïndruk met die groot verskeidenheid van style wat in die kategorie geopenbaar is, wat daarop dui dat daar meer as een styl is wat gepas is vir Suid-Afrika se diverse produksie-omstandighede. Die wynskrywer en blogger Christiaan Eedes wat ook deel was van die paneel beoordelaars, het voorgestel dat produsente in die toekoms op Chenin blanc-etikette aandui of dit gehout was of nie om verbruikers te help onderskei tussen verskillende style.