
Die tyd loop uit vir inskrywings vir die SA Jongwynskou-kompetisie, die oudste en grootste wynkompetisie in die land is.
Plaaslike wynmakers gebruik dié kompetisie reeds vir sowat 180 jaar as ‘n maatstaf vir hulle jongwyne.
Wyne van die amptelike streke wat Robertson, Worcester, Stellenbosch, Paarl, Oranje-Vaal, Olifantsrivier, Swartland en die Klein Karoo insluit, sowel as individuele inskrywings van buite dié streke, ding jaarliks mee vir die gesogte toekenning.
Beoordeel portuur
Mnr. Bruce Jack, die hoofwynmaker van Flagstone, wat verlede jaar die algehele wenner van die kompetisie was, sê dié wen was die hoogtepunt van sy loopbaan: “Ek dink die Jongwynskou is ‘n uiters waardevolle bedryfsmeganisme wat die gedagtes van wynmakers instem op die maak van wyn van die beste moontlike kwaliteit. Hierdie kompetisie moet veral gevier word vir die onontbeerlike element van portuurbeoordeling tussen ervare wynmakers.”
Die sluitingsdatum vir inskrywings by streekswynverenigings is op 23 Junie, en teen 11 Julie sal die laaste inskrywings by die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) aanvaar word. ‘n Span beoordelaars sal die reeds meer as 2000 inskrywings van jongwyne vanaf 25 tot 29 Julie by die Nederburg-veilingskompleks beoordeel.
Die wenners sal op die 19de Augustus 2011 tydens ‘n geleentheid op Lambertsbaai bekend gemaak word. Die Olifantsrivier-wynstreek bied dié geleentheid in samewerking met Agri-Expo aan.
Besoek www.youngwineshow.co.za vir die nuutste SA Jongwynskou-katalogus en inskrywingsvorm.
19 Junie 2011